Die 13-jarige tiener wat na bewering vir die dood van Gert Fikster verantwoordelik was, is tans nie in aanhouding nie.

Volgens sers. Henry du Randt, ’n woordvoerder vir die Malmesbury-polisie, is Fikster (58) deur ooggetuies en in beeldmateriaal van kringtelevisiekameras gesien waar hy verlede Saterdag (18 Julie) onder ’n trok ingestamp is.

Fikster was glo in ’n rusie met jeugdiges naby die Engen-vulstasie in Voortrekkerstraat betrokke toe die voorval gebeur het. ’n Vragmotor van Spar het op daardie tydstip uit die vulstasie se perseel weggetrek.

Die oorledene het na wat verneem word sy balans verloor en onder die agterwiele van die bewegende vragmotor beland.

Hy is op slag dood.

’n Klagte van strafbare manslag word steeds deur die Malmesbury-polisie ondersoek, voeg Du Randt by.

Die betrokke tienerseun is kort ná die voorval deur die plaaslike polisie vir ondervraging ingebring en is intussen amptelik van strafbare manslag aangekla. “Die kinderhof sal self ’n datum vasstel vir wanneer die 13-jarige kind in die hof sal verskyn,” het Du Randt bygevoeg.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article