Die departement van korrektiewe dienste se korrektiewe toesig- en paroolraad se besluit om parool aan die veroordeelde kindermoordenaar Marius van der Westhuizen toe te staan, is amptelik teruggetrek.
Van der Westhuizen, wie se parool aanvanklik in Junie vanjaar aan hom toegestaan is, het nie as ’n vrylopende man op 31 Julie by die Malmesbury-gevangenis uitgestap nie nadat die DKD besluit het om sy vrylating onder paroolvoorwaardes te hersien.
Die DKD het op 20 Junie vanjaar die nuus aangekondig dat Van der Westhuizen, ’n voormalige superintendent in die polisie, op 18 Junie vir ’n derde keer voor die korrektiewe toesig- en paroolraad by die Malmesbury-gevangenis verskyn het. Volgens die paroolraad sou hy tot September 2034 met die verstryking van sy amptelike vonnis op parool gewees het.
Die nuwe minister van korrektiewe dienste, Pieter Groenewald, het onlangs aan Netwerk24 gesê hy is nie oortuig dat Van Der Westhuizen nie weer soorgelyke misdade sal pleeg nie. Hy het die herroeping van die raad se besluit verwelkom.
Die oudpolisieman is in 2011 op drie aanklagte van moord op sy gewese vrou, Charlotte van der Westhuizen, se kind Bianca (16) en hul eie twee kinders, Marius Eben (5) en Antoinette (21 maande), tot 24 jaar tronkstraf gevonnis. Die voorval het in hul huis in Brackenfell gebeur toe hy sy dienspistool gebruik het om die drie minderjarige kinders in hul slaap voor hul ma te skiet.
Die DKD het vroeg in Julie ’n verslag van die paroolraad bestudeer en besluit dat sy vrylating ná slegs 13 jaar van gevangenisstraf hersien moet word. Die hersiening het sy vrylating opgeskort totdat die proses afgehandel is.
Die nuus oor sy verwagte vrylating het wye teenkanting onder veral menseregteorganisasies veroorsaak. Charlotte het haar op haar beurt ook reeds in November 2023 in ’n pleidooi na sosiale media gewend vir ondersteuning van die publiek in ’n poging om die raad te oortuig dat parool nie toegestaan kan word nie.
Die DKD se aanvanklike verklaring oor Van Der Westhuizen se parool-vrylating het gestaaf dat hulle van mening is dat hy verantwoordelikheid vir sy dade aanvaar het.
Van der Westhuizen het ook volgens die verklaring voldoende terapeutiese behandeling en rehabiliterende ingryping ondergaan.
Groenewald het by monde van ’n verklaring gesê dat die hervorming van die paroolstelsel nie slegs ’n beleidskwessie is nie, maar noodsaaklik is.
“Ons is daartoe verbind om die paroolstelsel te hersien en te hervorm om juis die mees kwesbare burgers onder ons samelewing te beskerm,” het hy bygevoeg.



