Wright’s Gin in Yzerfontein en Darling Brew in Darling is Donderdag as die wenners in hul onderskeie afdelings in die radiostasie Kfm 94.5 se gewilde kompetisie, The Kfm Best of the Cape-toekennings, aangewys.
Luisteraars het die geleentheid gekry om vir hul gunstelingonderneming in verskeie afdelings te stem. Ná weke se stemmery en honderde duisende stemme wat ingestroom het, is die finaliste en uiteindelik die wenners op Donderdag 15 Augustus deur die loop van die dag aangekondig.
Wright’s Gin is as die beste plaaslike mikro-spiritus-handelsmerk gekroon, terwyl Darling Brew op sy beurt as die beste mikro-bierbrouery uit ses ander finaliste uitgeblink het.
Jason Wright het met die aankondiging van die wenners langs die N7-snelweg gestaan toe die omroeper Tracey Lange sy onderneming se naam as wenner op die lug genoem het. Wright het sy span en sy hele familie bedank, wat ’n groot rol in die sukses van die onderneming speel, asook sy dank teenoor die luisteraars, die radiostasie, die borg van die kompetisie, Yoco, en elkeen wat hulle met of sonder ’n toekenning ondersteun, uitgespreek.
Die beste mikro-bierbrouery was die laaste afdeling van die dag en is deur die omroeper Carl Wastie aangekondig.
Darling Brew het in 2021 en in 2023 met die louere weggestap.
Die bierbrouery en sy personeel was in ekstase met die aankondiging van sy derde oorwinning. Die brouery is deur Wastie as die “Darling van bier” beskryf. Volgens Harry Dare, die bemarkingsbestuurder van Darling Brew, wat op daardie tydstip in Pretoria was, word die sukses van die onderneming aan die hele span toegeskryf. Volhoubaarheid, gehalte en ’n groot verskeidenheid is ’n integrale deel van hul sukses, voeg hy by. Dare het almal bedank wat vir hulle gestem het. “Ons koester die toekenning.”


