Ná talle probeerslae is Werner Taljaard van Yzerfontein uiteindelik onder die top-10-finaliste in die jaar se Championship Boerewors-kompetisie.

Taljaard, ’n inwoner van dié Swartlandse kusdorp, het sy boereworsresep al altesaam 14 keer vir die jaarlikse kompetisie, wat landwyd deur Shoprite en Checkers aangebied word, ingeskryf.

Volgens Taljaard sal dit ’n groot voorreg en eer wees om as kampioen aangewys te word.

“Om as die wenner van die beste boereworsresep gekroon te word, is nie ’n geleentheid wat almal kry nie,” het Taljaard, die streeksvleismarkbestuurder van Checkers, gesê.

Hy sal eersdaags by nege ander finaliste vir die eindronde aansluit nadat sy resep beoordelaars, wat uit ’n paneel van kenners van die South African Chefs Association (SACA) bestaan, ná verskeie uitkloprondes beïndruk het.

Die eindronde vind hierdie Saterdag (24 Augustus) in Kaapstad plaas waartydens finaliste hul boerewors sal voorberei en vir die beoordelaars Zanele van Zyl, Carmen Niehaus, James Khoza, Mattew Howcroft en Martin Kobald sal gaarmaak.

Die wenner sal op die dag aangekondig word en met ongelooflike pryse daar wegstap, wat onder meer ’n splinternuwe Toyota Fortuner 2.4 GD RB AT en die titel van 2024 se Boereworskampioen insluit.

Die wenresep sal kort daarna in alle Shoprite- en Checkers-winkels landwyd beskikbaar wees.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article