Die raadslid Desiree Bess en die onderburgemeester van die Swartland, Anet de Beer, ontvang die twee vragte kos van Rise Agaist Hunger. Foto: Verskaf


Altesaam 107 inwoners van Riverlands word steeds by twee plaaslike gemeenskap­sentrums gehuisves terwyl hulle van tenkwaens as hul hoofwaterbron gebruik moet maak totdat die vernietigde waternetwerk herstel kan word.

Vandag is die 19de dag sedert dié landelike dorpie op die oggend van 8 Augustus en weer op 17 Augustus in chaos gedompel is nadat die damwalle van altesaam vier damme op die plaas Dassenberg meegegee het.

Harold Cleophas, uitvoerende burgemeester van die Swartland, het inwoners Vrydag regstreeks uit Riverlands die versekering gegee dat hard gewerk word om die waternetwerk so gou as moontlik te herstel. Cleophas het bevestig dat die tenders vir die herstel van die waternetwerk die afgelope Vrydag (23 Augustus) toegeken is. “Die pype is bestel en ons sal seker maak dat die pype so gou as moontlik afgelewer sal word sodat die herstelwerk gedoen kan word.”

Hy het sy meegevoel teenoor die slagoffers uitgespreek en bevestig dat die munisipaliteit kennis dra van hul ongerief.

“Ek kan julle verseker dat ons hard werk ter wille van ons mense, dat ons omgee vir ons mense en dat ons die waternetwerk so gou as moontlik gaan herstel.”

Intussen word onder inwoners van die plaaslike gemeenskappe, organisasies, skole en kerke van die Swartland en omliggende gebiede gewoeker om noodsaaklike items en benodigdhede by die slagoffers van Riverlands uit te kry.

HOPE Africa, ’n afdeling van die Anglikaanse kerk van Suider-Afrika en wat hom toespits op maatskaplike ontwikkeling, het op sy beurt na die gemeenskap van Riverlands uitgereik deur komberse en mussies aan talle te oorhandig. Die organisasie het finansiering ontvang wat sowat 150 gesinne, wat deur die onlangse vloedramp geraak is, van 450 komberse en 500 mussies voorsien is. Die oorhandiging is vandag (Dinsdag 27 Augustus) by die kerk op Riverlands gedoen.

Riverlands Primêr het die basis geword vir noodlenigingsoperasies, waar lede van die gemeenskap die slagoffers bedien het, berig David Rossouw, ’n vryskut­skrywer aan die Weskus.

Die drie Rotariërklubs in die omgewing van Atlantis, Malmesbury en Melkbos het Woensdag 21 Augustus ook die rampgebied besoek om die slagoffers – veral die inwoners wat van die operasionele sentrum afgesny is – by te staan ??deur hulle met drie viertrekvoertuie te bereik.

Kospakkies, klere, komberse, drinkwater en persoonlike-sorg-pakkies is aan die slagoffers oorhandig.

Van die slagoffers het gesê dit is vir hulle baie moeilik om by die sentrum uit te kom omdat dit weens die toestande onveilig is om te stap.

“Ons is baie dankbaar vir die Atlantis-, Malmesbury- en Melkbos Rotariër-klubs wat ons van basiese benodigdhede kom voorsien het,” het Wynonna Makriege, een van die slagoffers, gesê.

Die organisasie Rise Against Hunger het onlangs ook ’n skenking ter waarde van R30 000 aan die Swartland-munisipaliteit oorhandig, wat uiteindelik vir 12 000 maaltye gesorg het.

Albert Wassenaar van Adopt a Mission, ’n organisasie sonder winsbejag, het die skenking tussen Rise Against Hunger en die munisipaliteit gefasiliteer.

Die gesamentlike waarde van die produkte wat gedurende die afgelope jaar deur die Malmesbury-gemeenskap ontvang is, beloop ongeveer R150 000.

Wassenaar is reeds die afgelope drie jaar in die Swartland betrokke waar hy getrou elke tweede Donderdag aartappels en uie onder die plaaslike gemeenskappe versprei. Die verspreiding word onder die borgskap van We Go Fresh gedoen en deur gevestigde kanale in die gemeenskap hanteer en ontvang.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article