Die belangrike 6,7-km-groenveldpadskakel, wat ’n integrale deel van die Malmesbury-ompad-opgraderings is, vorder goed.
Só sê Alan Winde, die Wes-Kaapse premier, en Tertuis Simmers, die provinsiale minister van infrastruktuur, wat Maandag ’n ter plaatse ondersoek afgelê het om na die vordering te gaan kyk.
Hierdie ambisieuse projek, met ’n belegging van R640 miljoen, is ’n integrale deel van die Malmesbury-ompad-opgraderings, wat daarop gemik is om padverbindings en veiligheid in die streek te verbeter.
Die nuwe padskakel verbind die Hopefield-wisselaar op die N7-hoofweg met die aansluiting van die R45, wat na Wellington lei, en die R46 na Riebeek Kasteel naby Malmesbury.
“Hierdie projek is ’n bewys van ons blywende verbintenis tot infrastruktuurgedrewe ekonomiese groei en werkskepping. Ons infrastruktuurontwikkeling moet voldoen aan die behoeftes van ’n vinnig groeiende bevolking, wat vereis dat ons meer toekomsgerig en innoverend moet wees,” sê Winde.
Benewens die padskakel sluit die projek die oprigting van vyf nuwe brûe en ’n wisselaar by die R45/R46-kruising in.
Hierdie opgraderings is ontwerp om veiligheid te verbeter, reistyd te verminder en ekonomiese aktiwiteit te versterk deur toeganklikheid in die Swartland-streek te verbeter.
Simmers het die strategiese belangrikheid van hierdie ontwikkeling beklemtoon. “Die Malmesbury-ompad verteenwoordig nie net ons toewyding tot die bevordering van streeksinfrastruktuur nie, maar beklemtoon ook ons prioriteite om groei en welvaart aan te hits. Ons werk onvermoeid om die lewering van hierdie projek te versnel en verseker dat ons ons sperdatums haal sonder om gehalte in te boet,” sê Simmers.
Bouwerk het in Mei 2023 begin en is op koers vir voltooiing teen November 2025.
Die Malmesbury-ompadprojek is ’n beduidende mylpaal in die Wes-Kaapse departement van infrastruktuur se voortgesette pogings om wêreldklas-infrastruktuur aan sy inwoners te lewer.




