Sy bolwange herinner aan die vetste engelwolkie; die onskuld in sy groot blou oë laat my hart maklik verkrummel. Ons glo hy gaan die oë nog ‘ingroei’, want dis heeltemal te groot vir sy vierjarige gesiggie.
Hy’t die aangebore vermoë om ’n grappie uit niks te maak; sy koddige danspassies en liefde vir mense maak hom orals geliefd.
Hy verduidelik met groot erns oor die foto in sy sokkie-laai – ’n foto waar hy saam met twee vreemde gryskoppies staan. Hy onthou nie die name van die onbekende oupa en ouma nie, maar: ‘Toe hulle sien ekke staan daar en ek is sonder ’n ouma daarso, toe sê hulle ek moet by hulle gaan staan, dan neem ons ’n foto. Hulle het gesê hulle sal my nooit vergeet nie.’
Daarmee speel hy tevrede verder. En laat my, sy ouma, met ’n stapel skuldgevoelens staan.
Ons is betyds genooi om van Malmesbury af Johannesburg toe te vlieg ter wille van hierdie oupa-en- oumadag. Dit sou wonderlik wees nadat hierdie kinders Desember moes wegtrek om 1 200 km verder te gaan woon – te ver vir naweekkuiers soos voorheen. Dit was amper ondenkbaar om sommer op die vliegtuig te klim omdat een van drie kleinseuns ’n oupa-en-ouma-dag gaan hê. Sal ek dieselfde kan doen wanneer die ander twee ook spesiale vierings het?
Met my latere kuiertjie daar staan ek nou met die foto in my hand terwyl skuldgevoelens soos ’n ongesonde hartpasiënt se monitorblieps roekeloos rondwip – op- en af. Want ek onthou: My eintlike nee-sê vir die oupa-en-ouma-aanbod lê veel dieper. Dit het vroeg vanjaar ontstaan terwyl ek opgeruim en foto’s gekry het – foto’s wat ek jare gelede by ’n pre-primêre skool se oupa-en-ouma-dag geneem het. Op ’n lieflike lentedag het soveel gryskoppies wat ek goed ken, vrolik met hul kleinkinders op die groen gras saamgekuier.
Toe ek dus Februarie besef hoeveel van hierdie dierbare oues het intussen gesterf, kon ek geen been in my aan ’t beweeg kry om Johannesburg toe te vlieg vir só iets nie. Die oorlewingsyfer van oupa-en-ouma-dae is darem heeltemal te swak.
Die groot-oog kleinseun hier voor my laat my egter alles heroorweeg: Gestel net hierdie onbekende oupa en ouma het ook soos ek gekoes vir die byeenkoms, wie sou daardie dag my oumalose kleinseun omarm het? Wie sou spesiale woorde in sy oor gefluister het, soos hierdie twee kosbare mense gedoen het?
Pleks dat ek maar my vrese eenkant geskuif het. Dalk moet ek voortaan eerder die inhoud van my lewensjare verhoog as om onder beperkende vrese te leef. Dalk moet ek van nou af ook probeer instaan vir ’n klein mensie se behoefte aan klein stukkies omgee; dade wat die gehalte van sy/haar dag sal verhoog, eerder as agter ’n toe voordeur sit en koes vir die dood – iets wat in elk geval oor elke mens se lewenspad gaan kom.





