Die Malmesbury-rolbalklub begin vanjaar se seisoen op ’n hoë noot danksy die inisiatief van plaaslike inwoners wat die klub na groter hoogtes wil neem.
Karin Halvorsen, ’n voormalige komiteelid van die Mount Royal-gholflandgoed se trustfonds, het vroeër vanjaar besluit om hul fokus na die plaaslike rolbalklub te draai.
Die trustfonds, wat in 2007 gestig is om in die plaaslike gemeenskap terug te ploeg, het die rolbalklub onlangs met ’n splinternuwe grasskaaf (scarifier) toegerus wat voortaan gebruik sal word vir ’n spoggerige perk om op trots te wees. Die klubhuis, wat ook as ’n onthaallokaal vir geleenthede verhuur word, het behoorlik aandag geniet en sluit onder meer herstelwerk en nuwe kombuistoerusting in.
Morgan Howburg, wat by die instandhouding van die gholfbaan by die Mount Royal-gholflandgoed betrokke is, is ook vir sy kennis gebruik om seker te maak dat die perk gereed sal wees vir die komende seisoen.
Halvorsen, wat benadruk het dit is die fonds se fokus om hande met sake- en dorpsleiers te vat en só ’n verskil vir die lange duur te maak, sê Malmesbury se rolbalklub het nie nodig om vir enige ander klub terug te staan nie.
Die nuwe klubpresident, Jeffrey Petersen, het die afgelope Donderdag sy dank teenoor Halvorsen en die res van die trustfonds se komitee uitgespreek. “Die veranderinge sal ’n groot verskil in die klub se toekoms maak,” het hy bygevoeg. Petersen het op sy beurt gereël dat die bome wat die rolbalklub omring, verlede week met behulp van die munisipaliteit afgesaag word vir die toekomstige instandhouding van die baan. Hy sê benewens die opknappings- en opgraderingswerk by die klub, wil hulle graag die klub se ledetal uitbrei. “Ons wil veral rolbal onder jonger inwoners bevorder. Dit is bemoedigend om te sien dat jongmense meer by toernooie betrokke raak. Min mense weet dié sport kan jou na die Statebond-spele neem.”
Petersen voeg by dat hy opgewonde is oor wat die toekoms vir die klub inhou.
Volgens hom beoog die rolbalklub om ’n opedag aan te bied, waarna skole ook genooi sal word. Die klub se saketoernooi vind binnekort van 21 Oktober af plaas – ’n jaarlikse hoogtepunt onder sakelui as ’n spanbougeleentheid.
Die 2024-’25-seisoen begin amptelik op 15 Oktober. Petersen nooi almal wat belangstel, om by die klub te kom aansluit.





