Altesaam 33 skape is die afgelope naweek op die plaas Blijdscap in die omgewing van die Paardeberg gesteel.

Volgens sers. Henry du Randt, ’n woordvoerder vir die Malmesbury-polisie, is altesaam 34 skape die afgelope Vrydag (20 September) in ’n kraal geplaas en getel.

Met die klaer se terugkeer die volgende oggend (Saterdag 21 September) het al die skape verdwyn.

Die karkas van een skaap, wat op die plaas geslag is, is egter gevind.

Die skape is later die Saterdagmiddag op ’n perseel in die informele nedersetting by Klipheuwel aangetref. Die 33 skape was saam met ander landbouprodusente van die Klipheuwel-omgewing se vee, wat ook vermoedelik gesteel is, gevind.

’n 22-jarige man is in verband met die betrokke veediefstal in hegtenis geneem. Die verdagte het Maandag (23 September) in die Malmesbury-landdroshof op aanklag van veediefstal verskyn.

Du Randt sê hoewel veediefstal die afgelope paar maande in die omgewing van Malmesbury afgeneem het, word vermoed dat soortgelyke voorvalle moontlik kan toeneem namate die feestyd al nader kom.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article