Matrikulante landwyd het gister (21 Oktober) met die Nasionale Senior Sertifikaat-eksamen vir 2024 begin. Die eerste eindeksamen-vraestelle het bestaan uit Engels (huistaal, eerste of tweede addisionele taal: vraestel 3) wat in die oggend geskryf is. Volgens Amber Jones (18) van Schoonspruit Sekondêr, was die eerste vraestel makliker as wat sy verwag het. “Ek was baie gespanne toe ek in die saal ingaan, maar nadat ek die vraestel bestudeer het, het ek met selfvertroue begin skryf.” Hazron Nell (18) het op sy beurt ’n groot sug van verligting geslaak met die voltooiing van sy eerste vraestel. Hy was dit eens dat die vraestel nie so moeilik was as wat hy gedink het dit gaan wees nie, maar voeg by dat hy wel meer gespanne oor die Afrikaanse vraestel (3) was wat in die middag deur matrikulante geskryf is. Nicholynn Kleinhans (18) het ná haar eerste vraestel ’n groot glimlag op haar gesig gehad. Volgens haar was sy nie te erg gespanne oor die vraestel nie, hoewel sy die vraestel nie as maklik of moeilik beskryf het nie. Hier is Kleinhans, Nell en Jones wat ’n vinnige blaaskans tussen hul vraestelle kon neem. Foto: Charlotte Lesch


Eerste Engelse vraestel makliker as verwag

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article