Die Bet-el Baptiste-gemeente het onlangs (op 26 Oktober) die strate ter bewusmaking van borskanker en ondersteuning van vroue by wie dié gevreesde siekte gediagnoseer is, ingevaar.
Die oggend het met ’n suksesvolle pretloop afgeskop, gevolg deur inspirerende gassprekers gedurende ’n ontbyt waartydens alle vroue daaraan herinner is dat die plaaslike gemeenskap bankvas agter elkeen met kanker staan.
“Ons Bet-el Baptiste-jeug en hul ouers het besluit om ’n pretloop-ontbyt-byeenkoms aan te bied en die gemeenskap uit te nooi om die maand vir bewusmaking van borskanker saam met ons te vier,” het Johan Esterhuizen kort ná die geleentheid gesê.
Volgens hom was dit ’n groot hoogtepunt om inwoners bymekaar te bring.
“Ons mis so baie uit op mekaar en besef nie altyd hoe nodig ons mekaar werklik het nie. As ons kyk na al die gawes, talente en selfs die karakter van ’n mens, besef ons hoe ons mekaar kan aanvul.”
Volgens hom moet geleenthede soos dié as aanmoediging dien waartydens diegene geraak deur kanker weet hulle is nie alleen nie. “Daar is mense wat agter hulle staan in gebed en in fisieke bystand,” het hy bygevoeg.
Esterhuizen het afgesluit deur Galasiërs 6:2 aan te haal: “Dra mekaar se laste en gee op die manier uitvoering aan die wet van Christus.”




