Hesleen en Robert Moreland. Foto’s: Charlotte Lesch


Die geliefde eienaars van die gewilde Beef & Barrel-restaurant, wat oor die jare ’n baken in Piet Retiefstraat geword het, groet eersdaags ná 36 jaar.

Die Moreland-egpaar Robert (60) en Hesleen (59) van Malmesbury het vir byna vier dekades as rentmeesters in die voorskootbedryf opgetree waar hulle in diens van ander gestaan het. Vandag kyk hulle met ’n glimlag terug op jarelange herinneringe, vriendskappe wat gesmee is en daarmee saam lesse wat geleer is.

Robert het in sy vroeë 20’s sy liefde vir kosmaak, die restaurantbedryf en die see as die hoofsjef by die bekende Mariner’s Wharf in Houtbaai uitgeleef. Groter drome vir die toekoms was reeds in die sterre geskryf.

Sy passie vir die bedryf is voorafgegaan deur sy pa, Ken Moreland, wat destyds (in 1975) die Odewa Steakhouse in Voortrekkerweg, Malmesbury, gekoop het. Die restaurant se naam is verander na die Oudewa, wat jare later op sy beurt deur Barry Katsif oorgekoop is. Dié steakhouse het wéér ’n naamverandering ondergaan en staan sedertdien bekend as Barry’s Grill.

Robert, wat in daardie stadium nog by Mariner’s Wharf gewerk het, het te hore gekom van Barry’s Grill wat in die mark was. Danksy sy skoonpa wat vir hom borg geteken het, het Robert besluit om aan die diepkant in te spring en die restaurant gekoop. Die Morelands se reis met hul eie onderneming het amptelik in 1989 as ’n 24-jarige en 25-jarige egpaar afgeskop. Hul eersteling, Kenny, was maar 18 maande oud.

Dié restaurant het ná sewe jaar van adres en naam verander nadat hulle die geleentheid gekry het om die Van Imhoff-hotel in 1996 te koop. Barry’s Grill is toe vernoem na The Beef & Barrel wat tot vandag nog ’n bekende gesig in Piet Retiefstraat is.

Robert onthou hoe mense hom daarteen aangeraai het. “Hulle het vir my gesê, ‘Robert, jy vat ’n te groot hap uit die appel; jy gaan nie die pyp gerook kry nie’. Ek en Hesleen het hulle vir 28 jaar lank die teendeel bewys en The Beef & Barrel het ’n groot gunsteling onder die plaaslike gemeenskap en elders geword.”

Die nuus van die steakhouse se einde het daartoe gelei dat talle kliënte die afgelope Woensdag hulle daarheen gehaas het om herinneringe te deel en vir ’n laaste keer hul gunsteling dis op die spyskaart te bestel. “Die een kliënt al die pad vanuit Piketberg het twee Schnitzils bestel – een om te eet en die ander om te raam,” lag Hesleen.

Die jare het nie sonder sy struikelblokke gekom nie, maar Robert en Hesleen is dankbaar vir alles wat hulle beleef en deurgemaak het. Dit was maar vier jaar ná die groot trek wat Robert se hele lewe ’n gedaanteverwisseling ondergaan het. “Dit was die jaar 2000 – die jaar toe ek tot bekering gekom het,” dink hy emosioneel terug. Nie net het sy uitkyk oor die lewe verander nie, maar ook hoe hy sedertdien sake gedoen het. “Voor daardie tyd het ek ’n hart van klip gehad en nie werklik omgegee vir ander nie,” vertel hy. Volgens hom was daar diegene wat die ou Robert terugverwag het.

“Wedergeboorte is ’n eenmalige ding waar die Here ’n innerlike hartoorplanting doen. Dit kan jy nie in woorde verduidelik nie.”

Namate die jare sy gang gegaan het, het Robert besef hoe dinge stelselmatig verander het.

Een van sy gunsteling-verse om aan te haal en die ervaring te illustreer, is Romeine 12: 2. “Julle moenie aan hierdie sondige wêreld gelyk word nie, maar laat God julle verander deur julle denke te vernuwe.”

Dissipline in die werkplek het ook van daar af ingetree, soos byvoorbeeld in ’n kroeg.

Robert het baie gewonder hoe hy in ’n plek moet aanbly waar hy elke aand drank moet bedien en vir jare daaroor gebid. “Ek het gesê wanneer daar ’n geleentheid sou kom om uit die bedryf te tree, sal ek dit waardeer. En dit is nou ons geleentheid.” Daarom deel hy graag sy leuse in die lewe dat die lewe moeilik is, maar nooit onmoontlik is nie.

Met die ontmoeting van die potensiële nuwe eienaars, het die Morelands vrede in hul harte ervaar. Robert verwys na Kolossense 3:15 van die vrede wat Christus bewerk het, in ons lewens die deurslag gee, “want as lede van een liggaam is julle tot vrede geroep”. En wees dankbaar.

“God gebruik jou vrede om jou te lei oor wat reg of verkeerd is.”

Hesleen beskryf die einde as emosioneel, maar dat sy uitsien na die toekoms. Dit was nie altyd maanskyn en rose nie, maar die goeie herinneringe oorskry die slegte tye. Wat vir haar gedurende die laaste paar dae opvallend was, was hoe hulle kinders van die plaaslike gemeenskap onder hul neuse in die restaurant sien grootword het. “Ons is deur drie geslagte,” stem Robert saam.

“Een van ons gereelde kliënte se sewejarige dogtertjie het met die nuus dat ons gaan toemaak, vir haar ma gevra waarheen sy dan haar kinders eendag gaan neem,” glimlag Hesleen.

Die Moreland-egpaar se grootste bate vir die byna vier dekades was hul personeel van wie al vir tussen tien en twintig jaar die pad saam met Robert en Hesleen stap. Volgens Robert en Hesleen was hulle bevoorreg om personeel wat voorheen sleg af was, in ’n baie beter posisie in die lewe te plaas deur ’n goeie basis in die lewe te bied.

Die Morelands se vier kinders, wat elkeen op ’n tyd hul lyf kelner moes hou, is dankbaar vir dit wat hulle deur die bedryf geleer het. Die kinders is terselfdertyd ook bly om te sien hul ouers gaan rustiger raak.

Hesleen sien uit daarna om haar huis in die aande te geniet.

“Dit sal vir my en Hesleen aangenaam wees om mense te kan oornooi en dat ons vriendskappe en bande wat deur die bedryf geskep is, sal kan versterk,” voeg Robert by. Hesleen skerts en sê hulle moet net nie ’n Beef & Barrel-dis by die huis verwag nie.

Robert voeg by dat hy nie aftree nie, maar wel aangaan met dit waarmee hy al lankal besig is, en dit is om vir die Here te werk en diensbaar te wees.

“Ons bedank ons Hemelse Vader, maar sonder die ondersteuning van die gemeenskap, die dorp en kliënte van heinde en verre, sou niks van die restaurant moontlik gewees het nie.

“Ons is ongelooflik dankbaar. Ons was die base van die onderneming, maar die ware base was die gemeenskap en kliënte van Malmesbury wat ons gereeld kom ondersteun het.” Die Morelands en die personeel by The Beef & Barrel het inderdaad vir al die jare daarna gestreef om al hulle kliënte tevrede te stel en in almal se diens te wees.

Hy brei uit oor Spreuke 10:22 wat lui dat dit die seën van die Here is wat rykdom bring, maar die hand van die vlytiges maak ook ryk, soos genoem in Spreuke 10:4, voeg hy by.

“Wanneer jy verstaan en besef dat jy onder God se seën is, kan jy jou uitkyk verander, maar dan kan jy nie stilsit nie.”

Hoewel die Morelands nou uit die bedryf tree, gaan Robert met die oorgangsfase help.

Die Dros, die nuwe restaurant in die plek van The Beef & Barrel, woeker sedert verlede week om hul deure eersdaags in Desember oop te maak.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article