Ná twee nederlae het die Darling-krieketklub die derde geplaaste Hopefield Saterdag (9 November) met een lopie in ’n rillerstryd in Darling in hul vyfde ligawedstryd verslaan.
’n Oorwinning was noodsaaklik vir Ernest Dietrich se span om mededingend te bly. Hopefield het die loot gewen en Darling eerste ingestuur om te kolf. Sergio Thomas en Fernin Hoogbaard het geopen, maar Thomas is op sewe lopies uitgevang, en Rooms en Cloete het vinnig gevolg en onderskeidelik drie en een aangeteken.
Darling het op 16/3 gesukkel om ’n herhaling van sy vorige wedstryd teen Essex te vermy, waar hy vir net 95 lopies uitgeboul is. Abraham Henkelman en Ernwill Afrika het goed met Hoogbaard gekombineer om die telling ’n hupstoot te gee, maar nadat Hoogbaard vir 20 vertrek het met die telling op 44/4, het dinge vir Darling moeilik gelyk.
Henkelman en Afrika het daarna onderskeidelik 13 en 40 lopies aangeteken, wat Darling gehelp het om 179/9 in 50 boulbeurte te haal en Basil George het met ’n onoorwonne 69 lopies uitgeblink.
Hopefield het sterk begin met vinnige grenshoue, maar terugslae in die gesig gestaar toe Areldo Meintjies vir Altwin Makka vir ses lopies laat uitvang het.
Verspeelde kanse deur die veldwerkers het Darling onder druk geplaas, maar die boulers het kalm gebly terwyl Hopefield se kolwers beheer het.
Vier vinnige paaltjies het Hopefield egter tot 169/8 beperk, wat hom net 11 lopies vir die oorwinning laat kort het.
In ’n naelbyt-afronding het die 19-jarige Ernin Afrika 11 lopies in die laaste boulbeurt verdedig.
Nadat hy eers sewe lopies afgestaan het, het hy Divan Arendse uitgehardloop.
Met Hopefield, wat drie lopies van twee balle benodig het, het Afrika ’n kolbal geboul. Rooms het vir Nathan Gurah van sy finale aflewering uitgehardloop, wat ’n eenlopie-oorwinning vir Darling verseker het.
Darling het met dié oorwinning na die derde plek opgeskuif – twee punte voor Hopefield, wat voor die wedstryd in die derde plek was.
Die afrigter, Dietrich, het sy spelers ná die wedstryd geloof vir hul karakter deur nie moed op te gee toe dit gelyk het of alles vir hulle verlore is nie.
“Ons het met ons kolfwerk gesukkel, maar George en Africa het goed gekombineer en die telbord aan die gang gehou. Ons sal daadwerklik ons kolfwerk opknap as ons teen ander spanne wil meeding. Met 11 lopies om te verdedig, het Afrika gewys hy het die temperament om druk te verwerk,” sê Dietrich.
Darling reis eerskomende Saterdag (16 November), na Malmesbury om hulle in hul agterplaas aan te durf, wat nog ’n opwindende wedstryd beloof.
Malmesbury, wat tuis teen Bergrivier gespeel het, het die loot verloor en is deur Bergrivier ingestuur om eerste te boul. Bergrivier het 216/8 lopies in sy toegelate 50 boulbeurte aangeteken. Malmesbury kon egter nie die teiken van 217 bereik nie en is vir 102 uitgeboul. Hy het die wedstryd dus met 114 lopies verloor.





