Tien van die Laerskool Gene Louw se topatlete het op Vrydag 18 Oktober aan die BD’s Top10-atletiekbyeenkoms by die Hoërskool Bredasdorp deelgeneem en ’n voortreflike vertoning gelewer.
Die Genies het altesame 10 medaljes verower – vier goues, ’n silwer en vyf brons – met Imke Roux se rekord in die 75 m-hekkies wat uitstaan as ’n hoogtepunt.
Daarmee het die skool volgens die ASA-puntetabelle ’n algeheel tweede plek onder 34 laerskole van reg oor die Wes-Kaap losgeslaan.
“Dit het werklik kopkrap geverg om hierdie groep saam te stel, wat die beste punte moontlik by die Top10-byeenkoms sou behaal,” sê Marinda Strydom, die skool se atletiekhoof.
“Dis ’n voorreg om soveel atlete met potensiaal te hê om van te kies.”





