Dié streek se kanola- en koringoes vorder fluks, maar stuur glo op ’n finansiële ramp af.
Die Swartland se graanprodusente skets ’n somber prentjie nadat vanjaar se laat seisoen, nat weerstoestande en hoë onkruiddruk bygedra het tot ondergemiddelde opbrengste, terwyl hoë insetkostes en swak koringpryse ’n bitter smaak laat.
Richard Hewett, voorsitter van Agri Malmesbury, is dit eens dat die reën vir dié seisoen bloot laat gekom het en produsente dus gekniehalter is wat ’n doeltreffende voorsaaispuit betref. Hy meen dit is een van die belangrikste stappe om so veel as moontlik onkruid dood te kry.
“Ons kon dit nie vanjaar doen nie. Die reën het te laat gekom en almal moes begin plant.”
Die laat reën het volgens Hewett veroorsaak dat die koring en onkruid gelyk uitkom én weens die reën en koue weer wat vinnig gekom het, ’n swak wortelstelselontwikkeling by die kanola en die koring teweeggebring het, verduidelik hy verder.
Hewett meen wortels ontwikkel beter in klam, warm grond as koue, nat grond. “Ons chemiese onkruidbeheer was ook nie baie doeltreffend in die koue en nat omstandighede nie. Die onkruid is veronderstel om die chemie deur die wortels op te neem, maar weens die hoë reënval kon dit nie doeltreffend plaasvind nie.”
Hewett sê regte tydsberekening het ook nie vanjaar in produsente se guns getel nie. “Die tydsberekening op kunsmis- en chemiese beheer was problematies omdat dit vinnig nat en koud geword het. Ons kon nie op die regte tyd met ons implemente in die nat grond gekom het nie.”
Produsente was dus genoop om van spuitvliegtuie en hommeltuie gebruik te maak om kunsmis- en chemiese beheer toe te pas. Volgens hom staar produsente boonop probleme met die koring se proteïeninhoud in die gesig, wat ’n swak gradering van hul koring tot gevolg het. Hy skryf dit onder meer toe aan swak kunsmisloging (verspreiding deur water) én kunsmisopname nadat wortels dus nie reg ontwikkel het nie.
Hewett beskryf die seisoen as die perfect storm wanneer alle faktore in ag geneem word en sê die swak koringprys teenoor ’n toename in insetkostes het omstandighede vererger. “Onkruiddruk is hoog, insetkostes is hoog en koringpryse is laag. Só word produsente genoodsaak om hul begrotings aan te pas om nie te oorbestee nie.”
Volgens inligting onder plaaslike produsente blyk dit dat 25% van die koring se graad sover as “klas ander” en ongeveer 50% daarvan as B3’s gegradeer word, terwyl die oorblywende hoeveelheid na bewering onder B1’s, B2’s en supergraad val.
Philip de Waal, ’n koringprodusent in die omgewing van Moorreesburg, het op sy beurt gesê “die Swartland bloei”.
“Dit was droog, toe skielik koud en nat.” Plaaslike produsente in daardie omgewing verwag ’n gemiddelde opbrengs van 2,6 ton per hektaar.
“Boere is nie positief nie. Die prys van koring is heeltemal te laag. Alle produkte se pryse is net te laag en kostes te hoog,” voeg hy by. Die meeste produsente in daardie omgewing se koring val onder ’n B3-gradering.
“Ons het dit nie sien kom nie.”
André Kirsten, wat in die omgewing van Darling asook Philadelphia boer, sê die oes lyk tot dusver ook ver ondergemiddeld vir daardie omgewings.
“Daar is baie strooi met baie are en geen pitte nie. Dit wat ons verwag het teenoor die werklikheid, is hemelsbreed,” het hy bevestig.
Kirsten vermoed baie boere gaan finansieel slegter af wees vanjaar. “Ek kan nie sien hoe hulle hieruit gaan kom nie.” Volgens hom het talle reeds bevestig dat hulle nie hul skuld sal kan betaal nie. Hy beskryf die kanola-oes vir daardie omgewings as ’n massiewe ramp, maar dat daar wel goeie kampe was, maar ook kampe wat niks gegee het nie. Hoewel sommige produsente tevrede is met hul koringoes vir die omgewing, bly vanjaar se seisoen ’n hartseer een vir Kirsten.
“Daar staan mooi koring, maar daar is nie pitte in die tenk nie. Daar gaan net niks aan nie. Dit is ’n hartseer saak.”
Volgens Johan Hanekom, die voorsitter van Agri Moorreesburg, is die einde van die oes vir hulle nou in sig.
Moorreesburg se produsente in die omgewing van Gouda het plek-plek rypskade. Kampe lewer ook mooi strooi, maar nie die koringkorrels om daarvoor te wys nie.
“Sekere gedeeltes kan toegeskryf word aan ryp, terwyl ander dele wel reën in September nodig gehad het, wat ons gedink het nie nodig was nie en waar die are net eenvoudig nie gevul het nie.”
Daar is egter uitskieterkampe, voeg hy by. Oor die algemeen gaan dit nie ’n gemiddelde oes wees nie. “Ek sal meer sê ondergemiddeld na gemiddeld.”
Hy is dit eens dat die produsente se proteïen-inhoud van hul koring ’n groot probleem in hul omgewing is. “Dit is meestal B3- of voergraad. Dan is dit nog die koringprys wat uiters pateties is.”
Hy meen daar is finansiële probleme op die horison. “Al is vanjaar nie ’n groot oes nie – dalk 3 ton per hektaar – is jy steeds swakker af as in 2017, wat onder die erge droogte gebuk gegaan het.
“Dit was lae insetkostes met ’n goeie koringprys, terwyl die koringprys vanjaar baie laag is. Jy kort ’n geweldige goeie oes om insette te dek.
“Ek hoop daar kan veranderinge kom,” voeg hy by.
Volgens Hanekom is die vervoerdifferensiaal ook ’n groot kwessie en maak produsente se bemarkingstrategie seer. “As die vervoerdifferensiaal heeltemal uitgehaal kan word of af kan kom na ’n baie bekostigbare aftrekking, sou die som anders gelyk het. Ons is dankbaar vir dit wat daar is, maar ons het baie meer nodig – veral in ons omgewing. Om grond te huur of te koop, is baie duur. Met die huidige oes en huidige pryse gaan jy uiteindelik niks betaal kry nie.”
Albert Laubscher, die voorsitter van die Hermon- en Riebeekvallei-omgewing se boerevereniging, sê hulle is in dieselfde bootjie as die meeste graanprodusente. “Ons het redelike ondergemiddelde opbrengste; so ook die graad van koring.”
Hy skryf dit onder meer toe aan die nat Julie en droë September, wat die gewasse op twee kritieke tye waar dit potensiaal vaslê, geknyp het. “Die groeityd wat plante tot hul beskikking gehad het, is weens weersomstandighede beperk,” voeg hy by.
Johan Pyper, ’n landboukundige vir SOILL, wat beklemtoon dat daar nog nie amptelike syfers tot hul beskikking is nie, noem dat vanjaar se kanola-oes tot nou ’n gemiddelde opbrengs van 1,2 tot 1,3 ton per hektaar kan oplewer en verwag word. Volgens hom is dit vanjaar ’n ver ondergemiddelde oes teenoor waaraan hulle gewoonlik gewoond is. Dit kan toegeskryf word aan laat opkoms vanjaar weens die laat reën. “Toe die reën aanbreek, het die plante vir sowat twee maande in die water gestaan, wat die seisoen korter gemaak het en waar die kanola dus groeityd verloor het. Blomfase en peulvulfase het uiterste temperature ervaar. Daar was ryp en daar was dae wat bo 30 °C was en die peule afgespeen en dus tot die swak oes bygedra het.” Volgens Pyper is daar geen gebied in die omgewing van die Swartland wat uitstaan nie. “Dit is maar ’n mengelmoeskardoes. Die opbrengs verskil van kamp tot kamp. Die wisselvalligheid tussen die kampe is verskriklik groot, wat op die ou einde 1,2 en 1,3 ton gemiddeld gaan gee, wat ons verwag.”
Pyper voeg by die meerderheid van die produsente is dankbaar vir dit wat hulle wel afgehaal het, terwyl daar gebiede in veral die laagliggende gedeeltes is waar versuiptoestande voorgekom het en kanola se wiele volgens hom “heeltemal afgekom het”.
“Kanola hou nie van versuipte nat toestande nie en dít kan dus toegeskryf word aan die knou van die opbrengs.”




