Vincent Paramore, die skoolhoof by Wesbank Sekondêr, tree aan die einde van vanjaar se skooljaar uit die onderwys.Foto: Charlotte Lesch


Vincent Paramore (64) groet Wesbank Sekondêr met ’n geruste hart op die vooraand van sy aftrede.

Paramore het op 1 April 2020 in die mees uiterste omstandighede as skoolhoof te midde van ’n staat van inperking by Wesbank Sekondêr ingestap. Die Covid-19-pandemie was as’t ware nie die groot uitdaging nie, maar eerder om vir daardie tydperk – sonder enige fisieke kontak – inligting oor te dra, menseverhoudinge te kweek en leiding te bied.

Daardie struikelblok was oorkombaar. Paramore sonder egter twee uitdagings uit wat hy as universeel tot die onderwys beskou, naamlik dissipline en gesonde menseverhoudinge.

“Een van die grootste uitdagings wat ek gedurende my loopbaan in die onderwys ervaar het, is dissipline en die faktore wat daartoe bydra. En dan is dit goeie menseverhoudinge,” voeg hy by. Paramore onthou die dag toe sy eie hoërskool in Bedford (Oos-Kaap), elektrisiteit gekry het. “Ek was in matriek toe elektrisiteit by ons skool geïnstalleer is. Dit het my oorreed om aanvanklik ’n elektrisiën te word,”

As hy maar net daardie keuse gevolg het, skerts Paramore. “As elektrisiën werk jy met toerusting. In die onderwys werk jy met mense. En dit is waar jy leer om goeie menseverhoudinge te handhaaf. Ek glo ek het die uitdaging in ’n mate oor die jare bemeester,” voeg hy by.

Paramore het ná matriek as student by die Universiteit van Wes-Kaapland (UWK) ingestap, hoewel hy in daardie stadium nog onseker was wat sy loopbaankeuse sou wees. Hy bieg en vertel onderwys was nie regtig op sy radar nie. “Ek het maar agter my maats aangestap. Namate ek in die onderwysrigting aangeploeter het, het ek my roeping gevind. Ek het lief geword vir die leerders en besef dat die onderwys oor hulle gaan,” vertel hy.

Hy meen die leerders was nog altyd die beste deel van sy dag en sy loopbaan. “As jou kollegas jou moontlik die dag teleurstel en jy stap in ’n klas vol leerders in, hef dit jou op,” glimlag hy.

Sy eerste pos in die onderwys was in 1985 by die Hoërskool Scottsville, gevolg deur 15 jaar as onderwyser by Aloe Sekondêr in Mitchells Plain. Daarna was hy adjunkhoof by Ashton Sekondêr. Hy is later terug na Mitchells Plain, waar hy vandag nog woon, en het as adjunkhoof by Spine Road Sekondêr ingeval.

Paramore het egter kort daarna die appelkar omgegooi en bedank. Dit was nie eens ’n maand later nie toe die onderwys hom terugroep na Oval North Hoër, gevolg deur ’n permanente aanstelling by Masiyile Sekondêr.

Sy laaste draai in die onderwys voordat hy Malmesbury toe gekom het, was as adjunkhoof en later waarnemende hoof by die Hoërskool Voortrekker in Kenilworth. Die platteland het gewink en sy beste dae het by Wesbank Sekondêr begin, waar Paramore ’n kultuur van omgee ervaar het.

Volgens hom sal hy sy tyd by Wesbank Sekondêr altyd koester. Dit is hier waar hy die eerste keer erkenning en respek vir die gesagsposisie waarin hy hom bevind het, beleef het.

Hy beskryf dit as ’n ontnugterende ervaring om as skoolhoof erken te word.

Die beste raad wat hy aan toekomstige leiers in die onderwys wil oordra, is om mense saam met hulle op die reis te neem. “Neem die mense en die gemeenskap saam met jou op die pad en gee vir hulle die ruimte om hul bydraes te lewer. Dit maak ’n baie groot verskil.”

Hoewel Paramore onseker is of hy dit reggekry het, het hy gewis daarna gestreef.

Hy sê hy gaan die kultuur van omgee by dié skool baie mis. “Wesbank Sekondêr is ’n unieke skool. Die onderwysers gee om. Die skool gaan op unieke wyse met leerders om, juis omdat die opvoerders baie omgee.”

Hy gee toe daar is ook “skerminkels” soos by enige skool, maar die leerkragte by Wesbank Sekondêr het die deursettingsvermoë om ’n pad saam met elke leerder te stap.

Paramore reis daagliks van Mitchells Plain af Malmesbury toe en skerts wanneer hy saans by die huis kom, begin hy met sy tweede werk. “Ek sien daarna uit om nou slegs een werk te hê,” terg hy.

Sy vrou, Michelle, bestuur haar eie onderneming in die kleremaakbedryf uit hul huis, verduidelik hy trots.

“Aan die einde van die dag wil sy ook maar net ontsnap, terwyl ek wil rus.”

Alle grappies op ’n stokkie – Paramore sien daarna uit om sy passie vir tuinmaak daagliks van vroeg tot laat uit te leef wanneer hy nie die rol van sy vrou se bestuurder vervul nie. . Paramore is die afgelope naweek by ’n afskeidspartytjie in die skoolsaal amptelik gegroet.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article