Die naam en eienaarskap van die nuusblad Swartland Gazette het dalk al verskeie kere deur die jare verander en met die konstante evolusie in die wêreld daar buite is dit liefs iets om mee vrede te maak.
Wat wel steeds jaar ná jaar opvallend bly, is die gebeure waaroor berig word.
Opskrifte en fotobladsye oor die Moorreesburg-skou, interskole, Darling-blommeskou en plaaslike rugbyspanne wat mekaar pak, was nog altyd groot nuus en sal altyd groot nuus bly.
Vorige geslagte het ook berig oor die hoë petrolprys (as hulle maar geweet het), kommer oor die jeug, dienslewering en dies meer. Die gesegde lui nie verniet “hoe meer dinge verander, hoe meer bly dit dieselfde” nie.
“Dit beklemtoon net weer die belangrike rol wat gemeenskapskoerante vervul om die fokus te plaas op dié gebeure en kwessies wat aan die kern van gemeenskappe staan en andersins dalk oorgesien sou word,” sê Maryke Swart, redakteur van Swartland Gazette.
“Ons vier dus met trots vanjaar 110 jaar van koerante, waar die lyn tussen nuus en tradisie baie fyn loop. Ons sien uit om nog jare ons gemeenskappe te bedien, en bedank elke kliënt – adverteerder en leser – wat ons aanhou ondersteun en met hul stories en produkte vertrou.”




