Prasa
Pendelaars in Malmesbury kan uitsien na verbeterde treindienste. Foto ter illustrasie

Inwoners en passasiers van die Malmesbury-treindienste kan van vandeesmaand af uitsien na verbeterde dienste.

Só sê die Wes-Kaap se minister van mobiliteit, Isaac Sileku.

Die Passasierspooragentskap van Suid-Afrika (Prasa) het onlangs die goeie nuus van verbeterde dienste op die Malmesbury-lyn bekend gemaak.

Volgens Sileku, wat die aankondiging met groot opgewondenheid verwelkom het, hoop Prasa om reistyd te vermin­der en inwoners danksy die opgradering van dienste van ‘n meer betroubare skedule te voorsien.

Die bekendstelling van die sneldiens deur die Eikenfontein-stasie, wat ‘n sleuterol in die opgeskerpte dienste vervul, is juis só ontwerp om oorvol treine te voorkom en betroubare dienste te verseker.

Die verbeterings vorm deel van die provinsiale regering se breër plan om die spoorweg vir passasiers as die ruggraat van openbare vervoer in die Wes-Kaap ten volle te herstel, voeg die minister in ‘n verklaring by. “Hierdie inisiatief ondersteun ons visie van ‘n geïntegreerde openbare vervoernetwerk, waar ‘n ­hoëkapasiteit-spoorlyn deur betroubare busdienste, ‘n veiliger en meer professionele minibus-taxibedryf, e-vervoerdienste en veilige stap- en fietsry-opsies bevorder word.”

Volgens die departement van mobiliteit is verbetere passasiersvloei en betroubare dienste noodsaaklik om te verseker dat openbare vervoer ‘n praktiese en waardige opsie bly. Die uitwerking van hierdie veranderinge sal voortaan noukeurig gemonitor word om te verseker dat dit aan die behoeftes van inwoners voldoen en so ook die provinsie se geïntegreerde openbare vervoerstelsel versterk, het die minister beloof.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article