‘n Vertoning, enig in sy soort en wat meer as net die kollig op talent plaas, is binnekort in Moorreesburg te sien.
So vertel die organiseerder en Moorreesburg-inwoner, Willie Joubert, op die skamele ouderdom van 19.
Joubert beskryf die talentkompetisie as ‘n gemeenskapsgeoriënteerde talent- en vermaaklikheidsgeleentheid wat daarop fokus om plaaslike talent ‘n professionele platform te gee waar hulle kan uitblink.
“Dit is nie net nog ‘n byeenkoms nie, maar iets besonders en betekenisvol,” sê Joubert, ‘n voormalige hoofseun.
“Al was daar in die verlede soortgelyke geleenthede in die streek, glo ek hierdie vertoning staan uit bo die res.”
Joubert vertel die pad tot hier was vol struikelblokke en vermoed hy is die jongste, indien nie die enigste, wat op sy ouderdom ‘n talent- en vermaaklikheidsvertoning van dié omvang na die Swartland bring.
In 2020 begin Joubert sy hoërskooljare by die Riebeeck Vallei Spesiale Skool in Riebeek-Wes. Hy het nie ná sy tienerjare soos baie ander ‘n toekoms vol moontlikhede ingestap nie. Daar was geen groot drome nie, net die hoop dat iets eendag sal sin maak, vertel hy beskeie.
As leerder begin hy plakkate ontwerp. Hy bieg en sê sy werk was nie van die beste nie, maar opgee was nie ‘n opsie nie. “Ek het aanhou leer en verbeter.”
Plaaslike sportklubs het sy werk raakgesien. So begin hy ontwerp en ‘n pad saam met die plaaslike Moorreesburg-rugbyklub stap.
Dit is ook waar die ware gogga vir kreatiewe werk en grafiese ontwerp behoorlik gebyt het. Dit is ook in daardie jaar wat hy vir die heel eerste keer ‘n kamera vasgehou het. “My tannie het op ‘n dag een huis toe gebring. Ek is gevra om ‘n paar foto’s te neem en so het my passie vir fotografie begin,” vertel hy opgewonde.
Sy eerste kamera van maar net R500 is met sy welverdiende wins van sy ontwerpe gekoop. Met elke bespreking het sy selfvertroue gegroei, so ook sy toerusting.
Joubert word in matriek as hoofseun verkies – ‘n jaar wat hom die geleentheid gegee het om sy leierskapsvaardighede te versterk. Soveel so dat hy genoodsaak was om ‘n mediaspan onder hom aan te stel soos sy klante en toerusting vermeerder het.
Sy meisie het intussen op die toneel verskyn en speel ‘n groot rol in sy lewe.
“Sy ondersteun my, help my om gefokus te bly en dra tot my geestelike groei by. Haar ondersteuning en my geloof het my gehelp om sterker en meer doelgerig te werk,” vertel hy dankbaar.
In 2025 registreer Joubert amptelik sy onderneming, naamlik Mr Willie CEA Photography, saam met sy grafiese ontwerp-handelsnaam, SJ Creative Designs. Ervaring in die grootmenswêreld was steeds integraal en hy begin as intern werk by die Weskus-distriksmunisipaleit. “Dit het my verdere blootstelling en professionele ervaring gegee.”
Vandag bestuur Joubert ‘n mediaspan en werk saam met drie rugbyklubs in die Swartland, naamlik Wesbank, Koringberg en Moorreesburg. Volgens hom hou drome ‘n mens aan die beweeg.
Nou bring hy ‘n vertoning op 27 Maart na die Swartland wat die plaaslike gemeenskap se asems gaan wegslaan. Die kompetisie is om mense van alle ouderdomme bymekaar te bring deur musiek, optredes en kreatiwiteit, en om jongmense te inspireer om in hulself en hul drome te glo – aanmoediging waarby hy as tiener self sou by baat.

“Dit wys dat ouderdom nie ‘n beperking hoef te wees nie, en dat groot dinge ook uit klein dorpe kan kom. Die platform skep geleenthede vir opkomende talent om gesien en gehoor te word, en versterk die gevoel van trots en eenheid binne die gemeenskap,” vertel hy.
Vir hom is die talentkompetisie ‘n droom wat waar word – iets waaraan hy al lank werk en waarin hy met sy hele hart glo. “Dit gaan nie net oor vermaak nie, maar oor hoop, inspirasie en die boodskap dat enigiets met geloof, harde werk en deursettingsvermoë moontlik is.”
Op 19 is Joubert dankbaar vir sy familie, sy meisie, sy span en almal wat in hom glo. Sy boodskap aan jongmense is eenvoudig: “Jy hoef nie alles van die begin af uit te figure nie. Werk hard, bou aan jou passie, bly nederig, en vertrou op God se leiding.”






You must be logged in to post a comment.