Wiam Syster, die kaptein van Abbotsdale, gesels ernstig met sy spanmaats tydens rustyd in Porterville teen Voorberg.

Die Swartland-Grootuitdaagbeker- kompetise van die Sanlam-Boland-rugbyunie het in 2025 ‘n seisoen gelewer wat nie net op die veld uitgespook is nie, maar ook in die hart van gemeenskappe.

Van Moorreesburg tot Mamre; van Porterville tot Abbotsdale – elke klub het sy eie storie geskryf, en nou, met slegs een ronde oor, is die finale hoofstuk op die punt om ontvou te word. Maar wie van Wesbank of die Abbotsdale Lillies gaan die Swartland-Grootuitdaag-kroon vir 2025 dra?

Die punteleer is nou ‘n taktiese slagveld. Abbotsdale se bonuspunt-oorwinning die afgelope naweek het hulle boaan die puntelys gelyk geplaas met Wesbank op 85 punte elk. Saron, wat hul seisoen reeds voltooi het, staan op 80; Mamre, met 77 punte en een laaste tuiswedstryd teen Abbotsdale, het die unieke geleentheid om die einduitslag dramaties te beïnvloed.

Huidige punteleer:

• Wesbank – 85 punte (1 wedstryd oor teen Voorberg – 6 September op Porterville)

• Abbotsdale – 85 punte (1 wedstryd oor teen Mamre – 30 Augustus op Mamre)

• Saron – 80 punte (seisoen voltooi)

• Mamre – 77 punte (1 wedstryd oor teen • Abbotsdale – 30 Augustus op Mamre)

Die laaste ronde is nie net ‘n toets van vaardigheid nie, maar van strategie. Indien Mamre wen, maar sonder ‘n bonuspunt, eindig hulle op 81 punte en beweeg verby

Saron. ‘n Bonuspunt-oorwinning sal Mamre op 82 punte plaas en Abbotsdale se titelaspirasies onder druk bring. As Abbotsdale met ‘n bonuspunt wen, het hy 90 punte en dwing Wesbank om met ‘n bonuspunt te wen om gelyk te trek.

In daardie geval sal die kampioen op punteverskil bepaal word. Wesbank het ‘n beter puntegemiddelde as Abbotsdale.

Mamre se rol in hierdie finale wedstryd is van strategiese belang. Al is hy buite die Top-12-kwalifikasie, bly sy invloed op die einduitslag tasbaar, soos ‘n skaakpion wat die verloop van die spel kan verander. ‘n Oorwinning teen Abbotsdale sal nie net sy eie seisoen met trots afsluit nie, maar ook die rangorde herskryf en moontlik die titelbesluit beïnvloed.

Vir Mamre se Eikeblare sal die skeidsregter se fluitjie op 30 Augustus nie net ‘n wedstryd afsluit nie, maar ‘n hele hoofstuk in die Grootuitdaagbeker-kompetisie.

Abbotsdale en Wesbank het nog vyf kragmetings in die opwindende Sanlam-Boland- Top-12 – elkeen ‘n sleutelgeleentheid om ‘n plek in die eindstryd te verseker en die seisoen met glorie af te sluit. Die kompetisie begin op 11 Oktober met die eindstryd op 22 November.

Swartland: Riebeeck United 19-34 Porterville; Voorberg 15-54 Abbotsdale

Weskus: Goedverwacht 12-76 Vredenburg; Langebaan 29-25 Paternoster; Steenberg Cove 23-28 Piketberg; Young Hearts 27-25 Saldanhabaai

• Wedstrydbepalings vir 30 Augustus:

Mamre t. Abbotsdale, Moorreesburg t.Porterville, Voorberg t.Riebeek United.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article