Darling Cellars se span stap vanjaar met meer as ‘n handvol trofeë weg nadat hulle ‘n ongelooflike 13 – insluitend die gesogte Absa-Grootkampioen-trofee vir sy Sauvignon Blanc (klas 14, ongehout) by die Swartland-jongwynskou gewen het. Darling Cellars was een van 11 wynkelders wat vanjaar vir dié streek se jongwynskou ingeskryf het.

Die fokus van die jaar se streeksjongwynskou, wat op Donderdag (14 Augustus) by die Meerhof-wynkelder se lokaal aangebied is, was op die voortbestaan daarvan. Volgens die gasspreker Jaco Potgieter, Douglas Green se wynmaker, die afgelope 20 jaar, is die skou vir die wynmakers en nie noodwendig vir die publiek nie.

“Moet nie [toelaat] dat die streekskou ooit ondergaan nie.”

Hy meen die skou moet as ‘n platform gebruik word waar wynmakers en jong wynmakers kennis kan inwin en op hul beurt in die betrokke kelder teruggeploeg kan word. Potgieter sê verder dat die skou die spesifieke jaar verteenwoordig.

“Die skou is die venster tot die jaar en stel die spesifieke eienskappe bloot.”

Hy moedig plaaslike wynmakers in die Swartland-streek aan om op vanjaar se skou voort te bou en dit behou. Hy meen wynkelders moet die uniekheid van die streek ontgin en mense só hierheen lok. “Julle het unieke wyne en ‘n unieke streek.”

Die CJP Chemicals-kampioen-trofee is aan Darling Cellars vir sy Chenin Blanc toegeken; só ook die Vinventions-kampioen-trofee vir sy Sauvignon Blanc, ook klas 14.

Die Enartis-kampioen-trofee vir Ander wit kultivar is op sy beurt aan Darling Cellars vir sy Chardonnay (gehout) oorhandig. Die Malmesbury-Toyota-trofee vir die Kampioen- droë wit versnit is ook aan Darling Cellars se Sauvignon Blanc/ Sémillon toegeken. Dié kelder, tussen Malmesbury en Darling se Pinotage (gehout), was ook die wenner van die Kobus Basson-trofee vir Kampioen-pinotage, terwyl die Kotzé/Steyn-trofee vir die Kampioen-shiraz ook deur dié wynmakers opgeraap is.

Die Porex SA trofee vir die Kampioen-merlot is by Darling Cellars se wenlys gevoeg nadat sy Merlot (gehout) die beoordelaars beïndruk het; só ook die Séan Nieuwoudt-trofee vir die Kampioen-cinsaut, die Santam-landbou-trofee vir die Kampioen- ander rooi kultivar danksy sy inskrywing van Durif en die Nexus-trofee vir kampioen- droë rooi versnit met sy Cabernet Sauvignon / Merlot.

Die wynspan het die afgelope Donderdag ook die SAIL-trofee vir Kampioen- versterkte wyn met sy wit Jerepigo losgeslaan, terwyl die vyf beste inskrywings Darling Cellars die Vinochem-trofee besorg het.

Jongwynskou wenners
Darling Cellars vier sy groot oorwinning by vanjaar se Swartland-jongwynskou, wat Donderdag (14 Augustus) by die Meerhof-wynkelder aangebied is. Van links is die kelder se besturende direkteur, Riaan de Waal, hul hoofwynmaker, André Scriven, en die wynmakers Maggie Immelman en Anthony Meduna.

Dit was egter nie die enigste wynkelder wat die dag met ‘n oorwinning beklink het nie. Pulpit Rock van Riebeek-Wes se span is as die wenner van die WPK/KAAP AGRI-trofee aangekondig vir sy Kampioen-

natuurlike soetwyn met sy Chenin Blanc/ Verdelho / wit muskadel, asook die Wine Machinery-trofee vir sy kampioen- Cabernet Sauvignon danksy die inskrywing van sy Rock- cabernet sauvignon.

Darling Cellars het omtrent beïndruk nadat hy 20 klaswenners opgelewer het, terwyl die Allesverloren-wynlandgoed twee klaswenners in die sakkie het, Org du Rac een klaswenner, Pulpit Rock ‘n ongelooflike sewe en Riebeek Valley Wine Co met drie. Die kelders wat met goue medaljes beloon is, is Darling Cellars (2), Diemersdal, Slangkop (2) en Pulpit Rock (2).

Altesaam 1 491 wyne is vanjaar op nasionale vlak ingeskryf. Die streek se topwyne ding nou mee met die ander streke se uitblinker in die nasionale jongwynskou, waarvan die prysuitdeling Vrydag (22 Augustus) plaasvind.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article