Wanneer hy nie agter die draaitafel is nie, tref hy presies op die teiken, en hierdie keer is dit nasionale roem.
Earl Adams van Darling is méér as ‘n geliefde “resident DJ” – hy is ‘n sportfiguur met ‘n missie, ‘n mentor met ‘n storie, en een van die Wes-Kaap se mees gerespekteerde sportambassadeurs.
Adams het sy plek in die Wes-Kaapse veerpyltjiespan met vasberadenheid, presisie en ‘n diep familie-erfenis verwerf en het van Sondag 13 tot Saterdag 19 Julie aan die Suid-Afrikaanse nasionale veerpyltjiekampioenskap by die Wild Coast Sun Resort & Casino in die Oos-Kaap deelgeneem.
“Om die Wes-Kaap te verteenwoordig, is ‘n eer, maar vir my is dit ook ‘n belofte aan my pa,” het Adams gesê.
Sy reis is uitsonderlik. In die laat 1980’s was Adams en sy suster Wilma gesogte balsaaldansers en -instrukteurs. Tog het sy pa, John Clinton (JC), ‘n bekwame veerpyltjiespeler, hom onverwags in die sport ingetrek in die leë plek van ‘n spanmaat by oefeninge, wat ‘n passie laat ontbrand het.
Teen 1992 het Adams by die Atlantis- veerpyltjievereniging (Adda) aangesluit en teen 1994 het hy op nasionale vlak in Mabatho deelgeneem. Ná sy pa se tragiese afsterwe in 1998 het hy besluit om elke pyltjie ter ere van en herinnering aan sy pa te gooi.
Vandag oefen hy toegewyd – twee uur elke dag. Hy het die Adda-enkelspeltitel teen sy neef Michael verower, met sy niggie as naaswenner in die vroue-afdeling. Hy het die Westelike Provinsie van 2004 tot 2009 verteenwoordig en is nou terug op die nasionale verhoog met ‘n doel wat verder as prestasie strek.
Adams het ‘n veerpyltjieklub in 2023 in Darling gestig. Hy het die sport saam met Yzerfontein onder jeug in Swartland begin vestig, met die kern waardes, selfvertroue en fokus.
“Ek glo die 180-program in Wes-Kaapse skole is ‘n wenresep,” sê hy. “Dit versterk dissipline, verbeter kinders se vaardigheid in wiskunde en bou hul selfvertroue op ‘n manier wat ek eerstehands gesien het.
“Dis presies waarom ek dit as my hoofdoel gestel het – om soortgelyke geleenthede in die Swartland te begin sodat ons kinders nie net leer mik nie, maar ook leer om in hulself te glo.”
Met sy deelname aan die nasionale kampioenskap, sy werk in die gemeenskap en sy visie vir jong spelers bewys Adams sport bou nie net punte nie, maar dit bou mense ook.





