Ronelle van Rensburg is op 6 Julie as die eerste vrouepresident van die Morreesburg-Lionsklub ingehuldig.

Ronelle van Rensburg is onlangs tot president van die plaaslike Lionsklub in Moorreesburg verkies.

Die 61-jarige se naam sal ook in die geskiedenisboeke van die klub verewig word as die eerste vrou wat dié posisie beklee.

Van Rensburg, ‘n ma van drie en ouma van sewe kleinkinders, het in 2022 as lid by die Moorreesburg-Lionsklub aangesluit. Volgens haar man, Neville, was sy egter nog altyd by gemeenskapsdiens betrokke.

Van Rensburg is Sondag 6 Julie amptelik as klubpresident ingehuldig.

Sy beskryf die geleentheid as ‘n besonderse eer en ‘n nederige voorreg. “Ek wil elke lid bedank vir die vertroue wat julle in my geplaas het. Dit is nie iets wat ek ligtelik opneem nie.”

Sy sê verder in haar aanvaardingstoespraak dat sy hierdie eer namens alle vroue. wat hul plek in diensorganisasies oopveg, dra “en ek hoop om deur my diens ‘n pad te help baan vir ander vroue wat volg”.

Haar leuse vir die jaar is: “Lei met trots, dien met hart”.

“As Lions-leiers moet ons met trots lei – met waardigheid, integriteit en ‘n sterk gevoel van verantwoordelikheid, maar ons moet met die hart, deernis, empatie en ‘n opregte begeerte om ‘n werklike verskil in mense se lewens te maak, dien,” brei Van Rensburg oor haar leuse uit.

Sy glo vas dat ware leierskap egter nie oor die titel of die posisie gaan nie, meer eerder oor invloed, voordeel en die bereidwilligheid om hande vuil te maak waar dit nodig is.

Van Rensburg sien uit na die jaar waar sy saam met klub-lede kan voortbou op die sterk grondslag wat reeds daargestel is. Sy sien ook daarna uit om nuwe hoogtes te bereik in hul diens aan die gemeenskap van Moorreesburg en omliggende gebiede.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article