Steven Witbooi (29), een van vier verdagtes in die moord op die 73-jarige Karl Lauks van Tulbagh, het op Maandag 23 Junie weer vlugtig in die landdroshof in Tulbagh verskyn.
Witbooi was Maandag 9 Junie die eerste keer in dié hof nadat hy kort ná Lauks se moord op Maandag 2 Junie in hegtenis geneem is. Sy saak is intussen by dié van nog drie verdagtes – Abriano Morris (19), Junaid Samson (24) en Ricardo Witness (29) – gevoeg nadat hulle ook onlangs in verband met die moord op Lauks aangekeer is.
Vroeër is berig dat Lauks se buurvrou op sy liggaam afgekom het waar hy in sy motor langs sy huis gesit het. Dit het gelyk asof hy verwurg is.
Vriende van Lauks het gesê hy is maande lank deur ‘n groep mans geteister, wat ge- reeld by sy huis ingebreek het – selfs toe hy tuis was.
Dié inbrekers het glo op ouer mense wat alleen woon, toegeslaan.
Lauks is ‘n Britse burger wat nie familie in Suid-Afrika het nie. Hy woon reeds jare lank in Tulbagh, waar hy ‘n geliefde lid van die gemeenskap was.
Die verdagtes verskyn op Donderdag 14 Augustus weer in die landdroshof in Tulbagh.



