MONTAGU – Twee families is kort voor Kersfees in rou en hartseer gedompel nadat twee van hul geliefdes in twee afsonderlike voorvalle wreed om die lewe gebring is.

Die gewelddadige voorvalle het op 17 en 18 Desember oor die naweek plaasgevind.

Volgens die plaaslike polisie is die 26-jarige Elisia Pappa in die eerste voorval vermoor.

“Die eerste moord is Saterdag 17 Desember omstreeks 02:45 aangemeld. Dit is nog onseker wat presies gebeur het aangesien geen ooggetuies nog na vore gekom het nie. Iemand het die ambulans en polisie geskakel omdat iemand gesteek is,” het AO Suria Meyer, kommunikasiebeampte van die Montagu-polisie, by navraag gesê.

Die tweede voorval waarin Ronald Klaasen (40) gesterf het, het net die dag daarna, Sondag 18 Desember, plaasgevind.

“Die tweede moord is om 13:30 die Sondagmiddag aangemeld. Volgens ’n ooggetuie het die slagoffer en die verdagte se seun gestry. Die verdagte het na bewering die slagoffer van agter genader en gesteek, waarna die slagoffer op die toneel dood is,” het Meyer gesê.

Meyer het voorts gesê ’n verdagte is in elk van die twee gevalle in hegtenis geneem en twee moorddossiere is vir verdere ondersoek geopen.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article