Tertuis Simmers, die Wes-Kaapse minister van infrastruktuur, het die afgelope Vrydag (2 Augustus) altesaam 184 titelaktes aan begunstigde inwoners oorhandig. Die inwoners kan nou daarna uitsien om binnekort ’n huis van hul eie te hê.
Die geleentheid vorm deel van die departement se prioriteite om die lewering van noodsaaklike infrastruktuursdienste te bespoedig. Die De Hoop-behuisingsprojek in Malmesbury, wat reeds in Augustus 2021 van stapel gestuur is, het intussen daarin geslaag om 395 behuisingsgeleenthede teen die einde van fase een aan inwoners te oorhandig. Simmers het die oorhandiging van die titelaktes as ’n mylpaal in die departement se pogings om huiseienaarskap onder die plaaslike gemeenskappe te bevorder, bestempel. “Elke titelakte verteenwoordig nie slegs ’n dokument nie, maar die fondamente van ekonomiese stabiliteit en persoonlike trots vir die begunstigdes. Dit is ’n getuienis van ons toewyding tot bespoedige dienslewering en dit gee die versekering dat almal ’n plek het wat hulle hul eie kan noem,” voeg hy by.
Die uitvoerende burgemeester van die Swartland, Harold Cleophas, die onderburgemeester, Anet de Beer, en ander raadslede het die oorhandiging bygewoon.





