CALEDON – Die Swartberg Sekondêre Skool en breër Caledon-gemeenskap is in rou gedompel nadat ‘n 17-jarige leerling Donderdag (16 Oktober) deur ‘n voertuig in Ravenstraat, Bergsig getref en op die toneel dood is. Nog ’n tienermeisie, ook ‘n leerling aan Swartberg, is ook in die ongeluk beseer en sterk in die hospitaal aan.
Die skool het in ’n Facebook-plasing die oorledene as Neo Cornelius (17) ’n gr. 10-leerling geïdentifiseer.
“Ons harte is swaar oor die afsterwe van Neo Cornelius, ’n kosbare leerder van Swartberg Sekondêr.
“Neo sal onthou word vir sy vriendelikheid, goeie maniere en die positiewe energie wat hy oral saamgedra het.
“Mag sy familie en vriende vertroosting vind in die mooi herinneringe wat hy agterlaat,” lui die skool se plasing.
Wesley Twigg, ‘n provinsiale polisiewoordvoerder, het by navraag aan Hermanus Times gesê die polisie is omstreeks 15:40 na die toneel ontbied.
“Met die polisie se aankoms het hulle ’n wit Toyota-bakkie op die sypaadjie van die pad aangetref. Daar word beweer dat die bestuurder van die voertuig twee mense raakgery het.
“Verdere ondersoek het gelei tot die ontdekking van die liggaam van die seun.
“Die 17-jarige slagoffer is op die toneel deur mediese personeel dood verklaar,” sê Twigg.
Volgens hom het die polisie ook ’n vroulike persoon aangetref wat beserings opgedoen het en later na ’n nabygeleë hospitaal vir mediese behandeling vervoer is.
Twigg sê ’n 21-jarige man is in hegtenis geneem op aanklagte van strafbare manslag.

Huldeblyke stroom sedert die voorval op sosiale media in.
Duncan Plaatjies, ’n opvoeder by Swartberg Sekondêre Skool, het in ’n Facebook-plasing sy harteer en skok na die voorval gedeel.
“My hart bloei vanaand man. Jy het nie dit verdien nie my klong.
“Hoe kap jy aan as daar ’n leë stoel nou in jou klas is?
“Aan al Neo se familie, vriende en onderwysers sê ek alle sterkte.
“Onthou daardie smile van hom en hoe hy was.
“Ons bly biddend en ons glo en vertrou dat God weet wat hy doen,” lui Plaatjies se plasing.
Cornelius se familie kon nie telefonies bereik word nie.






You must be logged in to post a comment.