Benita Januarie van Broadlandspark betower luisteraars met haar talentvolle fluitvernuf.

Benita Januarie van Strand is ‘n vrou van vele talente, maar haar God-gegewe passie vir fluit is een wat sy openlik koester.

En of sy nou besoekers by die plaaslike hospitaal waar sy as verpleegster werk, met haar hartroerende fluitspel verras en kalmte deur die sale laat weergalm en pasiënte gerusstel, óf in haar spaartyd by geleenthede die verhoog aandurf om gehore te bekoor – haar vaardighede spreek vanself.

“Wanneer ek fluit, voel ek goed; vol selfvertroue,” deel Benita.

Met haar vriendelike geaardheid dien dié 58-jarige as bewys dat mense wat fluit, wel gelukkiger lyk. Gekoppel met haar natuurlike medemenslikheid en deernis bied sy voortdurend sorg en troos aan pasiënte.

Dié inwoner van Broadlandspark en wat op die Vergelegen-plaas grootgeword het, het haar verpleegloopbaan in 2000 begin. Sy het sewe jaar aan die Helderberg Society for the Aged se Silver Oaks Lodge-aftreeoord gewy voordat sy vir twee jaar tuisverpleging gedoen het. Benita het ‘n dekade lank by Mediclinic Stellenbosch gewerk voordat sy ses jaar gelede by die Somerset-Wes-tak aangesluit het.

Vir besoekers of pasiënte wat in haar fluitpassie belangstel, deel sy graag haar liefde vir musiek, wat sy sedert die Covid-19-pandemie met meer selfvertroue uitleef.

“Ek het nooit voorheen my fluit so gebruik soos nou nie. Ek het net saggies vir myself gefluit. Iemand het my gehoor en gesê ek moet iets gaan doen met die fluitery,” deel sy. “Ek het dit opgeneem en daarna geluister, en toe ek hoor dit klink goed, het ek besluit om verder te gaan.”

LUISTER:

Benita se eerste liedjie wat sy met haar fluitvernuf baasgeraak het, was Frank Sinatra se “My Way”. Vandag kan sy amper enige lied in verskeie genres bemeester. “Ek doen gospel, opera, die volkslied en Kersliedjies. Ek is ook ‘n Christen, dus doen ek niks sonder Hom nie. Ek vra selfs vir God watter lied ek moet fluit as ek moet gaan optree. Gepaard met die fluit doen ek ook inspirerende toesprake. Sommige mense maak gebruik van my dienste – slegs hulle wat my erken. Dan is daar mense wat my uitlag en spot.”

Aan ander wat dalk nie haar behoefte begryp om haar fluitpassie met ander te deel nie, verduidelik sy: “Iets is vir almal in die lewe uitgesit. Jy moet dit net ontdek. Gun ook iemand anders dit wat hy van Bo gekry het. Elkeen se dag sal kom en volgens die Woord steek ‘n mens nie jou talent onder die maatemmer weg nie. Jy sit dit op die staander waar almal dit kan sien.”

Volgens Benita fluit sy nie net uit pure genot nie, maar help dié passie haar ook baie om van haar probleme te vergeet – veral wanneer sy aanbiddingsliedere fluit.

“My fluit help om mense gesond te hou en ek het al baie mense goed laat voel. Party mense het al gesê ek het hul dag gemaak. Ek het al by drie mense gekom wat nie meer lus gehad het vir die lewe nie. Toe hulle my gefluit hoor, het hulle weer lus gekry om voort te leef. My fluitery doen dus gewis iets vir mense.”

Benita vermaak almal met agtergrondmusiek met haar fluitspel – van volwassenes tot kinders. Sy het reeds haar talent op Heart FM, Cape Talk, Radio Helderberg en Radio Disa ten toon gestel. Hoewel sy gereeld na internasionale geleenthede en talentkompetisies uitgenooi word, verhinder ‘n gebrek aan geld haar om te gaan.

Haar groot droom bly egter om ‘n musiekalbum te vervaardig.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article