Stormers sukkel, maar trek in doodsnikke van wedstryd die wa deur die drif

Evan Roos
Die Stormers se Evan Roos was die eerste om punte vir sy span op die telbord te sit toe hy vir ‘n drie oorgeduik het. Foto: Rashied Isaacs

Die Stormers het Saterdag (17 Januarie) hul plek in die Kampioenebeker se ronde van 16 bespreek met ’n 39–26-oorwinning oor die Leicester Tigers in ’n nat en glibberige DHL-stadion in Kaapstad. Hoewel die eindtelling gerusstellend lyk, sal die Kaapse span weet daar is heelwat werk wat voor hulle lê ná ’n ongestruktureerde vertoning waarin talle geleenthede onbenut gelaat is.

Die wedstryd is eers in die doodsnikke buite alle twyfel beslis toe plaasvervanger-skrumskakel Imad Khan ’n verdoelde drie gedruk het. Tot op daardie punt het Leicester hardnekkig aangehou en die Stormers voortdurend onder druk geplaas. In ’n verrassende wending is Springbok-losskakel Sacha Feinberg-Mngomezulu as kaptein aangewys. Die gereelde kaptein, Salmaan Moerat, was om familieredes nie beskikbaar nie, terwyl Ruhan Nel nie die 23-tal gehaal het nie. Jonathan Roche was terug in die beginspan en het as binnesenter uitgedraf in die plek van Damian Willemse, met Wandisile Simelane wat Warrick Gelant op heelagter vervang het. Willemse en Gelant herstel albei van harsingskudding.

Die Stormers het eerste bloed geruik toe Evan Roos ná goeie aanvalswerk oorgegaan het, met Feinberg-Mngomezulu wat verdoel het. Kort daarna het Andre-Hugo Venter ’n suksesvolle rolmaal afgerond vir die tuisspan se tweede drie. Leicester het egter teruggeslaan ná ’n fout deur Feinberg-Mngomezulu en later weer maklik deur die Stormers se middelveldverdediging gebreek om met 14–12 voor te loop.

Die Kaapse span het planloos voorgekom, met talle hanteerfoute en balbesit wat eenvoudig weggeskop is. Nietemin het Feinberg-Mngomezulu net voor rustyd ’n strafdoel oorgeklits om die Stormers met ’n skrale 15–14-voorsprong kleedkamer toe te stuur.

Leicester het die tweede helfte eerste geslaan met nóg ’n rolmaaldrie om weer die voortou te neem. Die Stormers het egter dadelik geantwoord toe Leolin Zas onder die pale druk. Feinberg-Mngomezulu is later met ’n geelkaart gestraf, maar JD Schickerling het tydens dié tydperk die bonuspuntdrie gedruk ná ’n sterk lopie. Khan het daarna ’n strafdoel bygevoeg voordat hy die wedstryd met sy laat drie verseël het.

Met die reën wat oor Kaapstad uitgesak het, het 24 893 ondersteuners bankvas hul span toegejuig tot by die laaste fluitjie. Ná die wedstryd het Feinberg-Mngomezulu erken dit was ’n uiters taai wedstryd en gesê hy het sterk gesteun op die ervare spelers rondom hom. Hy het bygevoeg dat sy eerste wedstryd as kaptein ’n groot voorreg was en dat die bonuspunt-wen besonders spesiaal was, ondanks die geelkaart wat hy ontvang het vir ’n gevaarlike afstamp.

Stormers-afrigter John Dobson het ook erken sy spelers het hom ’n paar gryshare besorg, maar het positief opgemerk dat baie van sy eerstekeusespelers volgende week terug sal wees vir die Suid-Afrikaanse derby teen die Sharks in Kaapstad.

Puntemakers:
Stormers (39):
Drieë: Evan Roos, Andre-Hugo Venter, Leolin Zas, JD Schickerling, Imad Khan
Doelskoppe: Sacha Feinberg-Mngomezulu (3), Imad Khan
Strafdoele: Feinberg-Mngomezulu, Imad Khan

Leicester Tigers (26):
Drieë: George Pearson, Will Wand, Jamie Blamire, Tom Manz
Doelskoppe: Billy Searle (3)

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article