Tien provinsiale krieketspanne van Blindekrieket Suid-Afrika is van Maandag 6 tot Vrydag 10 Oktober, by die Maties-krieketklub in Stellenbosch in aksie.
Die 10 spanne is Boland, Dolphins, Dragons, Oos-Kaap, Vrystaat, Inyathi, Limpopo, Lions, Titans en Westelike Provinsie.
“Altesame 240 spelers en administrateurs is deel van die toernooi en die laaste keer dat die toernooi by Maties aangebied is, was in 2000 vir die bo-40’s. Die meeste van die spelers wat deelneem, is werkloos of afhanklik van staatstoelae,” sê Frankford Williams, president van Blindekrieket SA.
Spanne word by die Athlone Skool vir Blindes in Bellville-Suid gehuisves en word daagliks na Stellenbosch vervoer.
Meer as ‘n toernooi
“Die Dolphins van KZN is die verdedigende kampioen en het die toernooi verlede jaar in April/Mei in Potchefstroom gewen. Van die spanne wat deelneem, is die Lions die mees suksesvolle span en het die kroon as kampioen al vier keer gedra. Ons is dringend op soek na borge om ons te help om die onkostes te dra of om etes en ander verversings te skenk,” sê Williams.
“Vir Boland en WP is die onkoste tussen R30 000 en R50 000 en dit sluit vervoer en kleredrag in. Spanne wat uit ander provinsies kom se onkostes beloop R60 000 vir vervoer en indien hulle vlieg meer as R100 000. Die bedrae sluit ook kleredrag en die huur van ‘n bus in.
“Na afloop van die toernooi word ‘n groep van tussen 30 en 35 spelers gekies om aan die 2027 T20-Wêreldbeker in Lahore en Multan in Pakistan deel te neem. Dit sal ook ander uitgawes meebring en borge se hulp vir die oorsese toer sal ook waardeer word.”
Ondersteuning nodig
Vir die toernooi wat Maandag begin, benodig hulle ook pryse as belonings vir spelers se vertonings op die veld.
“Skenkings soos bekers, kontant of koopbewyse, of selfs ongebruikte kriekettoerusting is ook welkom. Tans deel spelers krieketkolwe en dis ons droom om te sorg dat elke speler ten minste volledig uitgerus is met sy eie kolf, krieketsak, krieketskoene, handskoene en kopskerms.
“Vir baie van hulle is krieket nie net ‘n sport nie, maar ook ‘n uitlaatklep en ‘n plek waar hulle voel hulle kan ook ‘n bydrae lewer en ‘n gevoel van behoort kry – iets wat hulle dalk nie in ander dele van hul lewe ervaar nie. Almal gaan probeer om die groep na Pakistan te haal en ons wil darem die land se naam hoog gaan hou op en van die veld,” sê Williams.
- Vir nog inligting of om betrokke te raak, kontak Williams by 083 715 7546 of stuur ‘n e-pos na president@blindcricketsa.co.za, of kontak vir Ernest Nyatela by 061 997 5864 of coordinator@blindcricketsa.co.za.





