John Steenhuisen luister aandagtig na vrae uit die gehoor.
John Steenhuisen luister aandagtig na vrae uit die gehoor.

KAAPSTAD – Kommer by veral melk- en veeboere van Durbanville en omgewing oor die landwye krisis rondom bek-en-klouseer het oorgekook by ‘n vergadering van die Durbanville-landbouvereniging by die Loch Lynne-wynplaas, waar John Steenhuisen, nasionale minister van landbou, boere toegespreek het.

Bekommerde boere by die vergadering verlede Dinsadagaand (10 Februarie) wou weet wanneer daar genoeg entstowwe beskikbaar gaan wees om hul kuddes teen die hoogs aansteeklike virussiekte, wat onder gesplete hoefdiere soos beeste, varke en skape voorkom, te beskerm.

Voorvalle van die siekte is die afgelope week in Kalkfontein in Kuilsrivier onder loslopende beeste gerapporteer, asook elders. Sowat 450 beeste in Fisantekraal is die afgelope Sondag teen die siekte as ‘n voorkomingsmaatreël ingeënt.

Sukses is broos

“Landbou is nie ’n randverskynsel in Suid-Afrika nie. Dit is ’n strategiese sektor wat werk skep, veral in landelike gebiede, wat bydra tot voedselsekerheid, en wat buitelandse valuta verdien. Vandag kan ek met trots aankondig dat Suid-Afrika se landbou-uitvoere in 2025 ’n nuwe rekord van 15,1 miljard dollar bereik het. Dit is nie net ’n syfer vir ’n verslag nie; dit is die resultaat van produsente wat belê het in moeilike tye, van boere wat risiko geneem het, en van ’n sektor wat aanhou presteer ten spyte van siektes, infrastruktuurdruk en internasionale onsekerheid.

Eduard Loubser, voorsitter van die Durbanville-landbouvereniging, is hier saam met John Steenhuisen, nasionale minister van landbou.
Eduard Loubser, voorsitter van die Durbanville-landbouvereniging, is hier saam met John Steenhuisen, nasionale minister van landbou.

“Maar hierdie sukses is broos. Dit staan en val by vertroue — vertroue in ons biosekuriteit, vertroue in ons uitvoerstelsels, en vertroue dat die reëls van die spel nie gedurig verander nie.

“Dit bring my by siektebeheer, en spesifiek bek-en-klouseer. Ek hoef niemand te oortuig hoe verwoestend hierdie siekte is nie. Die emosionele en finansiële impak is werklik. Ek het met boere gepraat wat hul kuddes sien verdwyn het, wat jare se werk binne ’n kort tyd verloor het. Dit is nie iets wat ’n mens ligtelik opneem nie.

“Daarom het ons as regering besluit ons gaan nie bek-en-klouseer halfpad bestuur nie. Ons strategie is om die nasionale kudde sistematies te ent en, ná die nodige wagtydperk, weer aansoek te doen om Suid-Afrika as vry van bek-en-klouseer met inenting te laat verklaar by die Wêreldorganisasie vir Dieregesondheid. Dit is die enigste wetenskaplik aanvaarbare pad terug na oop rooivleis-uitvoermarkte,” het Steenhuisen gesê.

Orde

“Maar hierdie plan werk net as daar orde is. Ek wil dit baie duidelik stel: daar is geen beswaar daarteen dat privaat veeartse help met die inentings nie. Wat egter nie kan gebeur nie, is dat entstowwe ongekontroleerd versprei word, dat niemand presies weet waar, wanneer en hoeveel diere ingeënt is nie, of dat daar nie ’n enkele, betroubare rekordstelsel is nie.

“As die staat nie streng beheer hou oor die verkryging van entstowwe en die monitering van die inentingsproses nie, sal ons nooit weer daardie internasionale status terugkry nie. En sonder daardie status bly ons rooivleis-uitvoermarkte toe, ongeag hoe hard boere werk. Daar is eenvoudig geen kortpad hier nie. Internasionale markte vertrou stelsels, nie goeie bedoelings nie. As ons sê ons is veilig, moet ons dit kan bewys — op papier, in data en in die praktyk.

“Ons werk doelbewus om seker te maak die entstofpyplyn is stabiel. Dit sluit plaaslike produksie in, maar ook samewerking met betroubare internasionale vennote. Ons fokus is nie op wie die entstof invoer nie, maar op sekerheid van voorsiening, kwaliteit en naspeurbaarheid. Alles moet voldoen aan internasionale standaarde, want uiteindelik is dit Suid-Afrika se reputasie wat op die spel is.

“Biosekuriteit en marktoegang is twee kante van dieselfde munt. Boere weet dit goed: dit vat jare, soms dekades, om ’n nuwe mark oop te kry. Een fout kan dit in ’n oogwink toemaak. Daarom is dit so belangrik dat produsente streng voldoen aan fitosanitêre vereistes en dat die staat sy deel doen om markte te beskerm,” het hy gesê

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article