Noordkaap Bulletin

Staat voer aan man het sy lewensmaat vermoor, lyk seksueel geskend

Salmon Kammies (42) van Hopetown
Salmon Kammies (42) van Hopetown. FOTO: Charné Kemp

KIMBERLEY – Die staat het op Woensdag 4 Februarie in sy betoë in die Hooggeregshof in Kimberley aangevoer dat Salmon Kammies (42) van Hopetown sy lewensmaat aangerand het, met sy stewels geskop en met ʼn stuk draad aangerand het, waarna hy haar penetreer het terwyl sy sterwend of reeds dood was.

Kammies word van aanranding met die doel om Lizel Louw ernstig te beseer, haar moord en haar verkragting, of in die alternatief, seksuele handelinge met ʼn lyk aangekla.

Slagoffer se seun getuig

Adv. Anel Stellenberg, aanklaer, het aangevoer die beweerde penetrasie is die rede hoekom hy in aanhouding teenoor polisielede gekla het dat sy geslagsdeel seer is. Hy kon Louw ook met ʼn voorwerp gepenetreer het. Geen DNS en semen is aan die lyk gevind nie. Geen ander persoon as hy, die oorledene en haar seun (toe 8) was tuis op die nag van 2 en 3 Mei 2024 nie. Dit kon net Kammies wees wat haar dood veroorsaak het, het Stellenberg aangevoer.

Louw se seun het getuig dat die paartjie vroeër die aand by hul huis in Sonneblomstraat gedrink het. Later die aand het hy bevrees aanskou hoe sy ma deur Kammies met sy stewels aanhoudend geskop is. Later het hy haar met ʼn stuk bloudraad geslaan en water oor haar uitgegooi. Sy ma het nie weerstand gebied nie, en Kammies het die seun aangesê om te gaan slaap. Die seun se getuienis strook met die beserings aan sy ma se kop, lyf en bene. Die seun het die gebeure vanuit sy kamer en die kombuis gadegeslaan. Later het hy sy ma op die bed gehelp.

LEES OOK: Man kry vier jaar gevangenisstraf nadat hy suster doodslaan en -skop

Later die nag het Kammies na sy suster en dié se man, Marie en Gert Williams, se huis gegaan om te sê hy en Louw het ʼn rusie gehad en hy het homself met ʼn draad “verdedig omdat sy hom met ʼn mes wou steek”. By Kammies se huis aangekom, het Gert die bebloede oorledene op die bed onder ʼn blou duvet gesien. Hy het aan haar gevoel, en geweet sy is dood omdat sy koud was.   

Hy het Kammies oorreed om homself aan die polisie oor te gee, waarna Kammies eers sy stewels uitgetrek het voordat die polisie ontbied is. Hoewel Kammies ʼn wond aan sy lyf aan een polisielid gewys en aangevoer het dit is ʼn vars messteek was die lid nie oortuig nie, want die wond was reeds besig om te genees.

Kammies sou glo ook teenoor polisielede erken hy het ʼn draad gebruik “ter selfverdediging”.

In die vroeëre voorval weke tevore het hy sy lewensmaat so erg met ʼn besem aangerand dat die buurvrou wat TV gekyk het, uitgehardloop het om te kyk hoekom Louw om hulp skreeu. Kammies het glo op Louw geskreeu: “Jy wil nie hoor nie”.

‘Stuk draad selde ‘n moordwapen’

Adv. Hannes Rust, namens Kammies, voer aan dat hy in die vroeëre voorval vir Louw met ʼn tak geslaan en haar nie ernstig beseer het nie. Hy het haar geslaan want sy het klippe na hom gegooi. Mildrie Engelbrecht, die ooggetuie van die voorval, het getuig dat Louw na die voorval geensins beseer voorgekom of daaroor gekla het nie. Engelbrecht het nie eens hulp ontbied nie.

Daar is ook geen semen of DNS op die lyk gevind nie, daarom kan die staat nie bo redelike twyfel bewys Kammies het haar gedood of die lyk geskend nie. Hy het haar net met ʼn draad geslaan omdat sy hom met ʼn mes wou steek.  Daarna het sy glo oor ʼn plastiekskottel geval.

Die seun was ʼn onbetroubare getuie, want hy het stertjies aan sy storie gelas, het Rust aangevoer. Daardie aand was dit donker in die huis weens ʼn kragonderbreking en kon die seun nie sien wat gebeur het nie. Kammies het nooit erken dat hy sy vrou geskop of haar dood met die bloudraad veroorsaak het nie. ʼn Stuk draad word selde as ʼn moordwapen beskou.

Gert Williams is geen deskundige om te bepaal of iemand dood is of nie. Die seun en Engelbrecht is enkelgetuies en hul getuienis moet omsigtig hanteer word.

Adjunkregterpresident Violet Phatsoane het die verhoor na 10 Maart vir uitspraak uitgestel.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article