’n Dispuut oor of die voorsittende landdros haar aan die saak onttrek het of nie, het vandag (25 Mei) die voortgesette skedule ses-borgaansoek van twee Paarlse rugbyspelers in die Paarl-landdroshof oorskadu en tot verdere onsekerheid oor die verloop van die verrigtinge gelei.
Die hof het gehoor dat die staat, by monde van die streeksaanklaer Hamley Marquard, van mening is dat landdros Marti Wilson haar aan die saak onttrek het, terwyl Wilson voet by stuk gehou het dat sy dit nie gedoen het nie.
Die saak is gevolglik tot môre (26 Mei) uitgestel wanneer die landdros na verwagting meer duidelikheid sal gee oor haar posisie en oor die volgende stap in die verrigtinge.
Die staat het intussen aangevoer dat ernstige “onreëlmatighede” tydens die skedule ses-borgaansoek van die twee beskuldigdes, wat op vier aanklagte van verkragting teregstaan, voorgekom het en dat die saak op grond hiervan op hersiening geneem behoort te word.
Die staat beoog om ’n aansoek te bring dat die verrigtinge deur die Hooggeregshof hersien word.
Marquard het vandag namens die staat redes voorgehou waarom die borgtogaansoek op hersiening geneem behoort te word. Volgens hom is die kwessie rondom die aanstelling van ’n mederegsverteenwoordiger nie die enigste rede vir die staat se beswaar nie.
Dié ontwikkeling volg nadat die aanklaer in die saak, Melissa van der Byl, reeds op 15 Mei aangevoer het dat die borgtogaansoek op hersiening geneem moet word.
Van der Byl het destyds beswaar gemaak teen die betrokkenheid van Benedict Asia as mederegsverteenwoordiger vir die beskuldigdes. Volgens haar het die beskuldigdes se regsverteenwoordiger, Elton Rochert van Elton Rochert Attorneys in Kaapstad, nie vir Asia as ’n mederegsverteenwoordiger aan die hof voorgestel nie, maar bloot as sy “assistent”.
Asia is ’n prokureur verbonde aan Faure & Faure, die Paarl se oudste regsfirma.
Marquard het egter Maandag beklemtoon dat die staat “geen probleem” het met Asia se betrokkenheid as mederegsverteenwoordiger nie, maar wel met die wyse waarop sy rol aan die hof bekend gemaak is.
Hy het verder aangevoer dat Asia se betrokkenheid nie die enigste rede is waarom die staat die verrigtinge op hersiening wil neem nie.
Volgens Marquard het ernstige “onreëlmatighede” tydens die hofverrigtinge voorgekom, hoewel hy nie in fyner besonderhede daaroor uitgebrei het nie.
Hy het ook aangevoer dat Wilson nie deurgaans konsekwent opgetree het nie en dat die staat nie die geleentheid gegun is om Asia se betrokkenheid formeel te betwis nie.
Marquard het voorts gesê die staat sal die moontlike onttrekking van die landdros steun indien die saak nie na die Hooggeregshof verwys word nie.
LEES OOK: Staat wil Paarlse rugbyspelers se borgaansoek op hersiening neem
Die twee rugbyspelers staan tereg op vier aanklagte van verkragting van ’n 21-jarige student aan die Wellington-kampus van die Kaapse Skiereiland-Universiteit vir Tegnologie (KSUT).
Die student is na bewering in die vroeë oggendure van 27 April deur die twee beskuldigdes in haar kamer by ’n studentehuis verkrag nadat hulle haar glo ’n saamrygeleentheid vanaf ’n nagklub in Newton na haar studente-akkommodasie gegee het.





