oihoi
Die speelfilm, Kyk My In My Oë, word Woensdag by Minimax in die Paarl vertoon. Foto: Verskaf

SA-debuutfilm ‘Kyk My In My Oë’ speel by Minimax in die Paarl


PAARL – Die onafhanklike Suid-Afrikaanse speelfilm Kyk My In My Oë word Woensdag (27 Mei) by Minimax in die Paarl vertoon as deel van die rolprent se landwye vertoningstoer.

Die storie volg Andrew, ’n jong outistiese man, wat Kaapstad toe reis om sy vervreemde pa te konfronteer. Hy trek tydelik by sy neef Riaan in, wat self ná ’n onsuksesvolle verhouding emosioneel sukkel.

Tussen die twee ontvou ’n brose verhouding waarin onverwerkte trauma en die soeke na begrip sentraal staan.

Die rolprent, geskryf, vervaardig en geregisseur deur die opkomende plaaslike filmmaker Christian Schoeman van Melkbosstrand, is ’n karaktergedrewe drama wat temas soos identiteit, trauma en menslike verbintenis ondersoek.

Kyk My In My Oë is ’n onafhanklike debuutproduksie wat buite tradisionele ateljeestelsels ontwikkel is, met die fokus op egte Suid-Afrikaanse storievertelling. Die rolverdeling sluit bekende gesigte soos Albert Maritz en nuwe gesigte soos Anya Human, Hein Poole en Rikus Terblanche in.

Besoekers aan die vertonings sal ook die geleentheid kry om ná afloop van die film by Minimax aan ’n regstreekse vraag-en-antwoordsessie deel te neem, waar Schoeman meer sal vertel oor die kreatiewe proses, die tema’s van die film en die uitdagings om die projek te realiseer.

ojiop
Die rolprent is geskryf, vervaardig en geregisseer deur Christian Schoeman. Foto: Verskaf

Die film is geskik vir kykers van 13 jaar en ouer.

Hoewel daar geen eksplisiete inhoud is nie, behandel die verhaal emosioneel genuanseerde temas wat volgens die vervaardigers waardevolle gesprekke kan aanmoedig, veral in opvoedkundige kontekste.

Die vertonings vorm deel van ’n groter inisiatief om onafhanklike rolprente nader aan plaaslike gemeenskappe te bring en ruimtes vir gesprek, nadenke en kulturele betrokkenheid te skep.

Volgens die vervaardigers poog Kyk My In My Oë om ’n outistiese hoofkarakter op ’n eerlike en waardige wyse uit te beeld, met aandag aan sy talente, tekortkominge en daaglikse uitdagings in ’n wêreld wat hom nie altyd verstaan nie.

‘n Paar plaaslike name wat bekend is in die Drakenstein was ook betrokke by die maak film. Dit sluit in Hein Poole van die Paarl (Sterlopers, Suidooster) wat die rol as die kindersielkundige vertolk en Ugan Daniels, ‘n plaaslike foto- en videograaf wat die film se kameraman was.

Die film wys om 17:30 en 19:45 en kaartjies kos R80 elk.

NovaNews WhatsApp channel QR code

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article