Die staat het die afgelope Maandag (18 Augustus) in die Paarl-landdroshof gesê hy sal volgende week borgtog teenstaan vir ‘n 55-jarige man van Franschhoek wat verlede naweek weens die vervaardiging en verspreiding van kinderpornografie in hegtenis geneem is.
Volgens die staat het die twee beweerde slagoffers dié man vertrou en die feit dat hy in 2017 aan ‘n soortgelyke oortreding skuldig bevind is, is genoeg rede om hom nie op borgtog vry te laat nie.
Die man is die afgelope Saterdag (16 Augustus) omstreeks 07:00 die oggend by sy woning in Franschhoek in hegtenis geneem.
Hy het Maandag in die Paarl-landdroshof verskyn.
Sy identiteit word weerhou om die beweerde slagoffers te beskerm.
Hy het ook nog nie gepleit nie en sal eerskomende Dinsdag (26 Augustus) om borgtog aansoek doen.
Sy inhegtenisneming hou verband met video’s wat vroeër vanjaar aanlyn versprei is waarin hy glo seksueel met twee tienermeisies verkeer.
Een van die tienermeisies was in haar skooldrag.
Die polisie se eenheid teen reeks- en elektroniese misdade (SECI) het Saterdag beslag gelê op die man se selfoon, het kol. Frederick Rossouw, bevelvoerder van die Franschhoek-polisiekantoor, by navraag gesê.
Paarl Post het betroubaar verneem dat die polisie al vir ‘n geruime tyd die man se bewegings dopgehou het.
Hy het in ‘n stadium by vermoedelik familielede in die Strand gaan kuier toe gemoedere in Franschhoek hoog geloop het nadat die video’s aanlyn begin sirkuleer het.
Die polisie het aanvanklik eers ‘n lasbrief bekom om beslag te lê op sy selfoon en die inhoud daarvan af te laai.
“Hy was waarskynlik bewus dat die polisie op soek was na hom en dis hoekom hy Strand toe gevlug het – min wetende dat die polisie presies geweet het waar hy was.
“Al het hy ook daai video’s delete – die polisie het spesiale eenhede wat sal weet hoe om dit op te spoor, asook enige boodskappe wat tussen hom en die
tienermeisies gestuur is,” het ‘n betroubare bron na aan die saak Saterdag aan die koerant gesê.
Die staat het Maandag aangevoer dat die man al voorheen aan statutêre verkragting skuldig bevind is.
Die koerant kon by nadere ondersoek vasstel dat hy in 2017 deur die Paarl-streekhof vir statutêre verkragting van ‘n 17-jarige skoolmeisie skuldig bevind is en ‘n opgeskorte vonnis gekry het.
Hy het dié skoolmeisie glo swanger gemaak en sy het later die baba weens ‘n miskraam verloor.
Dié skoolmeisie (van 2017) se ma het ook Maandag se hofverskyning bygewoon.
Sy het aan die koerant vertel dat die man haar dogter al van 11-jarige ouderdom af glo seksueel voorberei het.
Sy sê dit het eers uitgekom toe haar dogter 17 jaar oud was.
“Om daai man in die hof te sien, het net weer ou wonde oopgekrap. Hy toon baie duidelik geen berou nie.
“Daar is baie kinders van wie ek weet aan wie hy soortgelyke dade gedoen het. Dit kom al vir baie jare en kan nie net elke keer onder die mat gevee word nie.
“As ek terugkyk, is ek vandag eintlik verheug dat my dogter die babatjie verloor het.
“Ons sal volgende week weer hier by die hof wees. Ons hoop dat sy borgaansoek teengestaan sal word,” het die ma gesê.
Sy wou ter wille van haar dogter se privaatheid anoniem bly.
Volgens die ma het van die familielede van die 55-jarige verdagte haar glo Maandag by die hof sleggesê.
Paarl Post verneem dat die man homself glo as ‘n pastoor in die gemeenskap voordoen.
“Hy doen homself al die jare as ‘n pastoor voor en dis een van die wyses waarop hy die gemeenskap manipuleer,” het ‘n gemeenskapsaktivis gesê.
“Sy eie kerk het aan my bevestig dat hierdie man g’n pastoor is nie. Hulle [die kerk] sou nog aksie teen hom neem, maar dit het nog nie gebeur nie,” sê die aktivis.



