Suid-Afrika het ’n strategiese ooreenkoms met Brasilië gesluit in ’n poging om die voortslepende bek en klouseer krisis hok te slaan, maar rolspelers waarsku dat tyd besig is om uit te loop en dringende optrede noodsaaklik is.
Die minister van landbou, John Steenhuisen, het tydens sy onlangse besoek aan Brasilië ’n voornemeverklaring en aksieplan onderteken om samewerking te versterk. Die doel is om Suid-Afrika se reaksie op uitbrekings te verbeter en uiteindelik die land se bek-en-klouseervrye status te herstel.
Brasilië, wat in 2025 internasionaal erken is as vry van die siekte sonder inenting, het sy ondersteuning gebied deur tegniese kundigheid, insluitend hulp met inentingsprogramme, monitering en veldnavorsing. Steenhuisen het ook Suid-Afrika se tienjaarstrategie aan sy eweknie, André Carlos Alves de Paula, voorgelê vir verdere verfyning.
’n Gesamentlike aksieplan vir 2026 tot 2028 sal dringend geïmplementeer word, met Suid-Afrikaanse kundiges wat later vandeesmaand na Brasilië reis vir kennisuitruiling. Brasiliaanse spesialiste sal op hul beurt binne drie maande plaaslik ondersteuning bied, terwyl ’n gesamentlike seminaar ook beplan word.
Ondanks hierdie ontwikkelings meen Francois Wilken, president van Vrystaat Landbou, dat die proses te stadig vorder. Hy wys daarop dat kundige planne reeds maande gelede beskikbaar was en dat ’n omvattende inentingsveldtog reeds teen hierdie tyd voltooi kon wees.
“Boere het nie meer tyd vir uitgerekte prosesse en politieke vertoon nie,” het Wilken gesê. Volgens hom is die huidige benadering grootliks reaktief, met owerhede wat van een uitbraak na die volgende beweeg sonder ’n volhoubare oplossing.
Hy beklemtoon dat ’n nasionale inentingsprogram, wat die hele kudde binne twee maande dek, haalbaar is mits sowat 14 miljoen dosisse entstof betyds beskikbaar is. Onsekerheid oor die staat se vermoë om entstof te verkry en te versprei, bly egter ’n ernstige knelpunt.
Wilken en ander rolspelers pleit vir ’n meer gekoördineerde benadering waarin die privaatsektor saam met die staat optree. Hy waarsku dat vrywillige maatreëls, soos Artikel 10, waarskynlik nie voldoende sal wees om die gewenste resultate te bereik nie.
Met ’n ramptoestand reeds afgekondig, word verwag dat regulasies dringend aangepas moet word om die krisis effektief te bestuur. Internasionale voorbeelde toon dat suksesvolle beheer staatmaak op samewerking eerder as sentrale beheer alleen.
Terwyl internasionale samewerking nuwe hoop bied, bly die kernboodskap duidelik: sonder vinnige, beslissende optrede kan die landboubedryf en uitvoermarkte verdere ernstige skade ly.




