Die mate van applous wat daar wel Donderdagaand vir pres. Cyril Ramaphosa se Sona 2026 was, herinner aan wat gewoonlik gegee word vir ’n losskakel wat die bal weer uitskop met die hoop dat daar dié keer iets van gaan kom.
En uitgeskop het hy: hy gaan nou self ’n waterkrisiskomitee lei, bek-en-klouseer is tot ’n nasionale ramp verklaar en die weermag word ingestuur om die Kaapse bendes te takel. Waarom nou eers? Vrees vir die plaaslike verkiesings?
Nou gaan die korruptes vervolg word, waarsku hy met verwysing na die veelbesproke Madlanga-kommissie. Maar swyg waarom kamerade, wat deur die multimiljoenrand Zondo-kommissie gerooikaart is, nog op die soustrein sit. Van sy Alex Mafia-adjunkpresident, Paul Mashatile, nie eens te praat nie.
Insiggewend het hy die een groot olifant in die voorvertrek van die nasionale huishouding, die Nasionale Gesondheidsversekeringsplan (NGV) net een keer vinnig genoem. Moontlik begin die besef selfs by hom posvat dat dit gedoem is. ’n Verdere klip is verlede week in die pad van die plan gerol toe die konstitusionele hof ’n aansoek daarteen vir eers weggewys het. Dit sodat ’n ander saak in die hooggeregshof, oor die gebrek aan raadpleging oor die plan, eers aangehoor kan word. In die praktyk stel dit die instelling van die plan steeds verder uit met ’n nog langer uitgerekte regsproses. Ramaphosa probeer steeds lippediens aan die plan bewys ter wille van interne ANC-eenheid.
Enoch Godongwana, minister van finansies, vir een is daarteen gekant en weier elke jaar om voorsiening daarvoor in die begroting te maak. Dit is nou ’n formele wet en dalk moet hy vanjaar, maar die weerstand bou op. Ramaphosa wil nou ter “voorbereiding van die plan” solank dat wanfunsionerende en leeggesteelde staatshospitale reggeruk word. Dit nadat hy en Aaron Motsoaledi, minister van gesondheid, onlangs een besoek het. Motsoaledi is ’n vurige voorstander van die plan. Wyle Tito Mboweni het in lewe, as destydse minister van finansies, by ’n ete met akademici en joernaliste na hom as ’n “Stalinis” verwys. Juis weens sy eie frustrasies met die gek idee van die plan en die verwoestende impak wat dit vir die staatskas inhou.
Wanneer dit by ander probleemkwessies soos spoorvervoer, hawens en elektrisiteit kom, verwys Ramaphosa graag na die verwikkelde verhoudings wat daar reeds met die sakesektor en private beleggers is. Natuurlik sonder om die verbode p-woord in ANC-kringe – privatisering – te noem. Uiteindelik hoef hy nie enigiets te privatiseer nie. Dereguleer net en gooi die mark oop. Die private inisiatief van diegene wat geleenthede wil ontwikkel en so noodwendig werk gaan skep en verdere beleggingsvertroue gaan skep sal self na vore tree. Hulle sit al hoe lank gefrustreerd en wag en begin geleenthede elders soek.
Ramaphosa het gevoel dit is ook sy taak om Suid-Afrikaners se frustrasie met die stand van plaaslike regering en dienslewering uit te spreek. Ja dankie president, maar is dit nie jou kamerade wat daar plunder en stokkiesdraai nie? Dit sluit Lerato Maloka, uitvoerende burgemeester van Sebideng-distrikmunisipaliteit, in wat weier om in sy splinternuwe Mercedes-Benz GLB (X247) as ampsmotor te ry. Dit staan nou net daar, want dit is nie luuks genoeg na sy sin nie. Al hierdie dinge wat die afgelope paar jaar bly skeefloop het, is terwyl Ramaphosa in Sona ná Sona al die beloftes in verskillende weergawes herverpak het. Moet dus nie Suid-Afrikaners verkwalik as hulle nie wil byt nie. Die oorgrote meerderheid het nie die luukse om soos Panyaza Lesufi, Gautengse premier, te spog dat hy in ’n hotel gaan stort as die water min is nie.
Dit help nie Ramaphosa probeer ’n verswakte dollar voorhou as ’n sterker rand nie. Ja, daar is weer beter ekonomiese groeivoorsuitsigte, maar dit desondanks sy regering, beslis nie as gevolg daaarvan nie. Pleks hy die struikelblokke uit die pad haal van diegene wat die beter groei as afspringplek vir groter dinge kan gebruik.
Omdat Ramaphosa se styl sag op die oor en oog is, kon hy mens amper weer meevoer. In so ’n mate dat mens dit bykans heeltemal kon miskyk dat die keiser eintlik heeltemal kaal is.
- Beukman is die redakteur van die nuwe Afrikaanse weekblad, Die Papier, wat op 6 Maart bekendgestel word deur Novus Media.





