KIMBERLEY – Terwyl die soektog na vyf vermiste mynwerkers wat op 17 Februarie in ’n modderstorting by die Ekapa Minerals-myn in Kimberley vasgekeer is, sy soveelste dag betree, het die fokus na massiewe ontwaterings- en booroperasies in ‘n wedloop teen tyd verskuif.
Volgens bronne het die water wat uitgepomp word in ’n poging om by die vermiste mans uit te kom, begin verminder, “wat bemoedigend is.”
Daar is egter nog baie modder in die tonnels, wat die reddingsoperasie gevaarlik kan maak.
Gwede Mantashe, minister van minerale hulpbronne, het Vrydag tydens ’n terreinbesoek ’n somber boodskap gelewer dat die kanse groot is dat die werkers ná die modderstorting beswyk het. Hy het gewaarsku dat die fokus moontlik moet verskuif na die herwinning van liggame eerder as om “valse hoop” by families te kweek. Hy en sy amptenare is deur Howard Marsden, Ekapa-hoofbestuurder, in die skag af begelei.

Reddingspogings deur watervlakke bemoeilik
Reddingpogings is aan die begin ernstig bemoeilik deur watervlakke wat voortdurend weens invloei gestyg het.
In Saterdag se Ekapa-mediaverklaring is bevestig dat bykomende pomp-infrastruktuur geïnstalleer is met die kapasiteit om ’n ekstra 5 000 kubieke meter water per dag uit die geaffekteerde area te verwyder. Die water word na houerdamme bogronds gepomp.
Boorwerk word onverpoosd voortgesit vanaf vlakke bokant die area waar die mans 890 meter onder die grond vasgekeer is om met hulle te probeer kontak maak. Kameras wat in dié geboorde gate afgesak is, toon egter net water.
LEES OOK: Minister waarsku oor skrale kans op oorlewing ná mynramp in Kimberley
Nadat geen direkte kommunikasie met die werkers bewerkstellig kon word nie, het die boorspanne op areas geboor waar lewe moontlik onderhou kan word. Die spanne werk in 24-uur-rotasieskofte om moontlike oorlewingsareas stelselmatig uit te skakel.
Proto-reddingspanne van ander myne en Mines Rescue Services (MRS) is steeds op die toneel.
Die myn sê prosedures vir die verwydering van modder en rots is gefinaliseer. Werknemers is reeds ingelig en toegerus om met die proses te begin sodra dit veilig genoeg geag word om die area binne te gaan.
Gebruik gespesialiseerde sensors
Jahn Hohne, uitvoerende hoof van Ekapa Minerals, sê die veiligheid van die reddingspanne en die doeltreffendheid van die operasie bly hul hoogste prioriteit. Mynbou-aktiwiteite by die Joint Shaft-operasie is steeds gestaak.
Volgens hom het vier tonnels toegeval. Daar was 61 mense in die myn ten tyde van die voorval, en die myn is onmiddellik na die voorval ontruim. Die vyf vermistes is egter vasgekeer. In die voorval is agt pompe buite aksie gestel, asook die elektrisiteitstoevoer.

Mannas Fourie van MRS, wat die myn bystaan, sê hul fokus is op die gebruik van spesialiskundigheid en tegnologie om die vermiste werkers op te spoor.
As ’n organisasie met meer as 100 jaar se ondervinding, tree MRS in raadgewende hoedanigheid op om mynbestuur te help met beplanning en strategie om die situasie te hanteer.
“Die spanne help met boorwerk en die pomp van water. Dit was veral krities aangesien die modder in die tonnels tot teen die dak gestoot het.
“Ons het gespesialiseerde soniese sensors ingebring om enige moontlike beweging of geluid van die vasgekeerde persone ondergronds op te spoor. Kameras is gebruik om visuele inligting uit die geboorde gate (wat tot 50 meter diep is) te verkry om die toestande agter die modder-blokkasies te assesseer.”
MRS-spanne gee elke halfuur terugvoer aan die beheerkamer oor watervlakke en die vordering van die reddingspogings.
In lyn met hul filosofie, werk die spanne om die vermiste persone te vind, hetsy lewendig of om die liggame te herwin, om afsluiting aan die families te bied.
Hy sê hulle bestaan uit hoogs opgeleide vrywilligers wat as “van die bestes ” beskou word en bereid is om hul eie veiligheid te waag om ander te help.
Somber vooruitsigte, maar ondersteuning van gemeenskap ‘oorweldigend’
Familielede van die vermistes is deur die mynowerhede ingeroep en met tegniese sketse verduidelik hoe die reddingsoperasie werk.
Van die familielede versoek egter dat die mynbestuur hulle op simpatieke wyse en meer gereeld op hoogte hou, want die “onsekerheid knaag” aan hulle.

Priscilla Damon, wie se man Connwille ook vermis is, sê sy steun op die Here se wil en dat hy haar in die tyd lei. Sy sukkel om te slaap en eet.
Ondanks die somber vooruitsigte, word die ondersteuning van die gemeenskap as “oorweldigend” beskryf, luidens die Ekapa-verklaring.
Plaaslike restaurante en selfs laerskoolkinders het kos en energiedrankies aan die reddingspanne gelewer, wat spanne van vyf ander mynmaatskappye insluit.
Die myn en die departement van minerale en petroleumbronne bly in noue kontak met die geaffekteerde families, aan wie beradingsondersteuning en gereelde opdaterings gebied word.






You must be logged in to post a comment.