BLOEMFONTEIN – ‘n Senior lid van die direktoraat vir die ondersoek van prioriteitsmisdaad (Valke) is van ‘n hoëprofiel korrupsie-ondersoek verwyder. Die VF Plus soek nou hieroor antwoorde.

Tammy Breedt VF Plus-lid van die provinsiale raad vir provinsies, sê dié party het vrae aan die waarnemende minister van polisie, Firoz Cachalia, hieroor gerig.

Die ondersoek gaan oor bewerings van korrupsie van sowat R269 miljoen wat met die Vrystaatse premier, MaQueen Letsoha-Mathae, verbind word.

Die ondersoek deur die Valke kom nadat ‘n WhatsApp-boodskap, na bewering deur Patrick Phuti, ‘n kontrakteur van New Beginnings-boukontrakteurs gestuur is oor die konstruksie van die Excelsior-Tweespruitpad. Die bewerings oor die premier en haar man, Lawrence Mathae, die speaker van die Mangaung-metro, in die boodskap word ondersoek.

Die premier van die Vrystaat Macqueen Letsoha-Mathae.
The premier of the Free State Macqueen Letsoha-Mathae.

Die bewerings sluit in dat Phuti beweer dat hy R400 000 betaal het vir ‘n bekendstellinggeelligheid en dat ‘n ander kontrakteur Phuti R2 miljoen betaal het om aan premier Letsoha-Matae te lewer om die oorname van die projek, vermoedelik die genoemde pad, deur hierdie kontrakteur te fasiliteer.

Dit sluit ook in Phuti se bewering dat meer as R4,5 miljoen bestee is aan die instruksie van die pemier – voorheen die LUR vir Gemeenskapsveiligheid, Paaie en Vervoer – vermoedelik nie verwant aan die padprojek nie. Ook dat Phuti R1 miljoen aan die pemier oorhandig het voor ‘n ANC Vroueliga-konferensie en dat Phuti vir Mathae R500 000 en die personeel van die premier in Welkom R100 000 betaal het.

In ‘n persverklaring ná die openbaarmaking van dié bewerings het Letsoha-Mathae gesê sy het kennis geneem van die skermkiekies en dat sy haarself van hierdie “kwaadwillige en ongegronde” bewerings teen haar gedistansieer het.

Mediabergite sê die betrokke valke-offisier is van die ondersoek verwyder terwyl hy intern ondersoek word. Die aard van daardie ondersoek is nog nie bekend gemaak nie.

‘n Junior beampte is aangewys om die hoëprofiel korrupsie-ondersoek te lei.

Die VF Plus beskou die omstandighede rondom hierdie skuif as ernstig. Die party sê die verandering van ondersoekbeamptes kan die deursigtigheid en geloofwaardigheid van die ondersoek in die gedrang plaas.

Die VF Plus wil weet of die minister kennis van die skuiwe dra. Die party eis volledige terugvoer oor die redes vir die veranderinge en die samestelling van die ondersoekspan.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article