Twee mans is gisteraand (17 April) in twee afsonderlike skietvoorvalle koelbloedig in Groendal, Franschhoek afgemaai.
Volgens Kurt Maske, ’n paramedikus van die Franschhoek First Responders, het hulle Vrydagaand (17 April) omstreeks 22:30 ’n oproep ontvang van iemand wat in ’n skietvoorval in Asterstraat gewond is.
Hy sê die gewonde persoon het egter voor hul aankoms op die toneel na Upper Lea-straat gestrompel.
Volgens Maske het hulle die manspersoon buite ’n spazawinkel in Upper Lea-straat met ’n skietwond in die arm aangetref. Die man is vir mediese behandeling na ’n hospitaal geneem.
Hy sê in die winkel het hulle op ’n tweede manspersoon afgekom wat noodlottig gewond is.
Maske sê skaars vyf minute later word hulle na nog ’n skietvoorval in die Langrug-informele nedersetting in Groendal geroep.
Daar het hulle in ’n winkel afgekom op die lyk van nog ’n volwasse manspersoon wat ook vroeër geskiet is. Die inwoners is egter baie bekommerd oor hul veiligheid.
Volgens konst. Ndakhe Gwala, ’n polisiewoordvoerder, het die polisie twee moordsake en ’n saak van poging tot moord geregistreer. Hy sê die motief vir die voorvalle is in hierdie stadium nog onbekend en geen inhegtenisnemings is nog gemaak nie.





