Wes-Kaapse minister van infrastruktuur, Tertuis Simmers bsoek hier die Sewe Passe-pad.
Wes-Kaapse minister van infrastruktuur, Tertuis Simmers besoek hier die Sewe Passe-pad om die vloedskade van 2021 te ondersoek.

GEORGE – Die historiese Sewe Passe-pad, wat sedert November 2021 gesluit is ná verwoestende vloedskade, sal na verwagting eers in die laaste kwartaal van 2026 heropen word ná byna vier jaar van vertragings en beplanningsprobleme.

Die Wes-Kaapse Departement van Infrastruktuur het Dinsdag (29 Julie) aangekondig dat konstruksiewerk aan die R53,4 miljoen- herstelprojek in September vanjaar sal begin, met ‘n geraamde 18-maande-konstruksietydperk.

Dít kom nadat padgebruikers van die Tuinroete al ‘n geruime tyd lank vra waarom hierdie nodige alternatiewe roete byna vier jaar later nog ontoeganklik is.

Die skilderagtige roete tussen George en Knysna het katastrofiese skade gely tydens die vloede van November 2021 wat die Tuinroete-distriksmunisipaliteit dae lank geteister het. Onder meer ‘n leivoor het heeltemal weggespoel by die 3,75 km-merk, wat owerhede gedwing het om die gewilde alternatiewe roete tussen George en die groter Wildernisgebied te sluit.

“Sedert November 2021 het die Tuinroete-distriksmunisipaliteit-gebied herhaalde vloede ervaar waartydens verskeie oorstromings padinfrastruktuur beskadig het,” het die Wes-Kaapse minister van infrastruktuur, Tertuis Simmers, gesê.

“Die pad is kortliks heropen ná aanvanklike puin-verwydering en tydelike herstelwerk, maar daaropvolgende assesserings het omvangryke skade getoon wat nie vinnig herstel kan word nie.”

Sedert die vloede van November 2021 wat die Tuinroete erg getref het, is die historiese Sewe Passe-pad steeds vir verkeer gesluit.

Komplekse beplanningsproses veroorsaak vertragings

Simmers het verduidelik dat die langdurige vertraging in herstelwerk spruit uit verskeie faktore, insluitend geldbeperkings, erfenisoorwegings en omgewingsimpakvereistes.

In Mei 2022 is ‘n ingenieursmaatskappy aangestel om gespesialiseerde hersteloplossings te ontwikkel. Die projek het egter uitgebreide samewerking met Erfenis Wes-Kaap en die Departement van Omgewingsake en Ontwikkelingsbeplanning vereis vanweë die historiese waarde van die roete, wat tot verdere vertragings gelei het.

“Weens geldbeperkings en wydverspreide vloedskade aan verskeie Wes-Kaapse paaie, is besluit om die vloedskade-herstelwerk op hierdie paaie uit te stel,” het Simmers verduidelik.

Die situasie het verbeter in Oktober 2024 toe die departement addisionele finansiering van die Nasionale Rampbestuursentrum ontvang het.

Simmers het beklemtoon dat die herstelproses ver verby eenvoudige padlapwerk is en ‘n uiters tegniese projek is.

Simmers het ook die openbare frustrasie oor die langdurige sluiting erken, veral gegewe die voortgaande Sanral-konstruksiewerk op die N2 tussen George en Wildernis.

“Ons neem kennis van die frustrasies en ongerief wat veroorsaak word aangesien die Sewe Passe-pad ‘n alternatiewe roete vir die Nasionale Roete N2 gebied het,” het Simmers gesê.

Hy het egter gewaarsku dat die onwettige gebruik van die Sewe Passe-pad nie geduld sal word deur wetstoepassers nie, nie net om veiligheidsredes nie, maar ook omdat dit tot verdere skade aan die pad kan lei en herstelwerk nog verder kan vertraag.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article