PAARL – Wat veronderstel was om ‘n lekker ontspannende middag te wees, het in ‘n traumatiese voorval vir twee tienerseuns van die Paarl verander.
Die twee 14-jariges het die afgelope Vrydag (21 November) omstreeks 14:00 besluit om in die Arboretum te gaan visvang, vertel Annamart Erasmus, een van die seuns se ma.
“Hulle het in die rivier gestap tot in die omgewing van die treinbrug. Ná ‘n rukkie het hulle agtergekom ‘n man hou hulle dop en beweeg agter hulle aan. Die seuns het begin bang raak en probeer om uit die rivier te kom, maar [hulle] is toe skielik deur vier mans met messe omring,” vertel Erasmus.
“Die mans het gedreig om hulle te steek sou hul nie hul visvanggoed aan hulle oorhandig nie. Die mans was eintlik tieners saam met een ouer persoon wat voorgekom het asof hy hul leier is en wat ook die jonger manne aangehits om die kinders te steek indien hulle nie wou saamwerk nie.”
Uit vrees het die twee seuns vir die mans geld belowe net sodat hulle kan wegkom.
“Dit het gehelp. My seun en sy vriend het toe in die diep kant van die rivier geswem, waar hulle tussen die bosse kon wegkom. Die seuns het baie getraumatiseerd by die huis gekom.”
Erasmus voeg by: “Ek is ongelooflik ontsteld en kwaad as ek dink aan wat kon gebeur het.”
Die saak is kort ná die voorval by die Paarl-polisie aangemeld. Navrae is aan die Wes-Kaapse polisie se mediasentrum gerig, waarop kapt. Frederick van Wyk soos volg geantwoord het.
“Die Paarl-polisie het ‘n klagte van rooftog met ‘n wapen anders as ‘n vuurwapen vir ondersoek geregistreer. Volgens berigte was die voorval op 21 November omstreeks 13:30 by Bergrivier Boulevard by die rivier onder die spoorlyn in Suider-Paarl. Die klaer is met ‘n mes gedreig en sy besittings is by hom afgeneem. Die ondersoek duur voort. Niemand is nog in hegtenis geneem nie.”
Dit is die soveelste ernstige aanval die afgelope paar jaar in die Paarl Arboretum. Verlede jaar het ‘n bejaarde man in die hoë-sorgeenheid van Mediclinic Paarl beland nadat hy deur ‘n groep tieners aangeval en met gholfstokke geslaan is.
LEES OOK: Paarl Arboretum under siege





