Viva la musica! Ná ‘n ryk loopbaan as wiskunde-onderwyser by die Hoërskool Brackenfell het sy afgetree met ‘n groot droom om ‘n seniorkoor in Kaapstad op die been te bring, geïnspireer deur die dinamiese koor wat jaarliks in Jeffreysbaai optree.
Saterdagaand het dié droom by die NGK Stellenberg ‘n werklikheid geword toe 80 seniorburgers, gewerf van Rawsonville tot in Gansbaai, saamgesing het as die Wes-Kaapse Seniorburger-sangfees se eerste koor.
LEES OOK: Vyfde Welgemoed-kunstefees bied 10 dae van musiek, kuns en gesprekke
Die dryfkrag agter die inisiatief is Marlene Kruger.
“Marlene het by die Jeffreysbaaise koorleiers kers opgesteek en ‘n deurdagte pakket saamgestel met ‘n program, bladmusiek, oefentye en instruksies vir elke deelnemer. Lekker afwisselende items soos sangsolo’s en duette met klavier, kitaar en trekklavier is ingeoefen,” sê die koor se woordvoerder, René Ferreira.
Kruger het hulle in groepe in Rawsonville, Gansbaai, Bellville, Kuilsrivier en die Othello-aftreeoord in Brackenfell laat oefen. Die sangleiers van dié groepe het haar op die aand van die optrede ook gehelp met begeleiding en die dirigeer van die uitvoering.
LEES OOK: Tygerberg-kinderkoor wen internasionale kompetisie by Sun City
Hoogtepunte vir die gehoor was die optrede van die Volkspele-laer en Louis Hurter se boeremusiekorkes. Petro van den Heever was die aanbieder en het die program glad laat verloop. Sy het ook ‘n gedig van Philip de Vos voorgedra wat die gehoor laat skater het.
Wat die program verder opgehelder het, was die entoesiastiese deelname van die gehoor. Hulle moes plek-plek inval en saam met die koor sing.
“Vir elke deelnemer aan die sang was dit vir seker nie net ‘n hoogtepunt van die jaar nie, maar ‘n groot ervaring om in ‘n koor van meer as 80 lede liedjies te sing wat van hul kinderdae tot vandag strek,” sê Ferreira.
Belangstellendes kan Marlene per epos kontak by: markru627@gmail.com.





