SA Interprovinsiale Muurbaltoernooi. Goudveld Hoërskool is trots op die uitstaande prestasie van twee van hul leerders. Diaan van Brakel en Lunay Smit, twee talentvolle leerders, is onlangs gekies om deel te wees van die Vrystaat Skole-muurbalspan. Dit is ’n groot eer wat hul toewyding en harde werk beloon.
Die insluiting beteken dat hulle Vrystaat tydens die SA Interprovinsiale Muurbaltoernooi sal verteenwoordig. Dit vind plaas van 6 tot 10 Julie 2026 in Mosselbaai. Hierdie toernooi, bekend as die Growthpoint Jarvis-Kaplan Interprovinsiale Muurbaltoernooi, bring die land se beste provinsiale spanne bymekaar en bied ’n unieke geleentheid om op nasionale vlak mee te ding.
Vir Diaan en Lunay is dit nie net ’n sportiewe hoogtepunt nie, maar ook ’n kans om die Goutie-naam met trots uit te dra. Hulle deelname dien as inspirasie vir elke leerder wat groot drome koester en herinner hulle daaraan dat deursettingsvermoë en passie altyd vrugte afwerp.
“Ons vertrou dat hierdie mylpaal die begin is van nog vele oorwinnings en hoogtepunte op jul muurbalreis. Die hele Goudveld-gemeenskap staan agter julle en wens julle sterkte toe vir die toernooi.”






