SA Atletiekspan - Paarl-atleet druk stempel af vir Dakar 2026
Jacobus van der Merwe

SA Atletiekspan – Paarl-atleet druk stempel af vir Dakar 2026


PAARL – Hoërskool Gimnasium Paarl het rede tot groot trots. Jacobus van der Merwe is amptelik in die finale SA atletiekspan opgeneem. Hierdie spogprestasie besorg aan hom die eer om die wêreldverhoog te betree. Hy gaan Suid-Afrika verteenwoordig in spiesgooi by die Junior Olimpiese Spele in Dakar, Senegal.

Die internasionale beraad vir die wêreld se top-junioratlete vind vanjaar vanaf 31 Oktober tot 13 November plaas. Jacobus se insluiting by die SA atletiekspan onderstreep nie net sy individuele toewyding en harde werk op die atletiekbaan nie. Dit dien ook as ‘n bewys van die hoë gehalte van sportopleiding en ondersteuning wat Paarl Gimnasium aan sy leerders bied.

SA Atletiekspan - Paarl-atleet druk stempel af vir Dakar 2026
Jacobus van der Merwe in aksie

“Ons is ongelooflik trots op hierdie besonderse prestasie,” het ‘n skoolwoordvoerder gesê. “Om op hierdie vlak gekies te word, is ‘n besonderse eer en ‘n skitterende voorbeeld vir al ons mede-leerders. Die hele skoolgemeenskap en Paarl-gemeenskap staan bankvas agter hom en wens hom alle sterkte toe met hierdie reuse geleentheid.”

Jacobus sluit binnekort by die res van die Suid-Afrikaanse afvaardiging aan om sy finale voorbereidings te tref voor hul vertrek na Wes-Afrika. Hy gaan teen die mees belowende jong atlete van die planeet meeding.

https://www.paarlgim.co.za/

Foto’s verskaf

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article