Vier uitblinkers van Hoërskool Die Wilgers verteenwoordig tans hul skool en land op ‘n internasionale reisavontuur. Hulle neem deel aan ‘n spogreis deur Skotland en Engeland wat jong akademiese sterre die geleentheid bied om wêreldwyd kennis en kultuur te verken.
Die vier leerders is:
- Mia Dunstan
- Flomé van der Westhuizen
- Altus van Zyl
- Ezmeralda Kotze.
Hulle is gekies om deel te wees van Travel and Sport se gesogte ‘Academic Achievers‘-program. Hierdie geleentheid word slegs aangebied aan presteerders wat uitnemendheid op die akademiese gebied toon.
Die program sluit nie net toeriste-aantreklikhede en historiese landmerke in nie. Dit bied ook ’n akademiese dimensie. Hulle besoek wêreldbekende universiteite soos Cambridge en Oxford, waar die leerders ’n blik kry op die ryk tradisie en uitnemendheid van internasionale hoër onderwys.
Vir die Wilgies is dit ’n reisavontuur wat hul horisonne verbreed en hul drome vlerke gee. Hierdie jong akademiese ambassadeurs toon dat toewyding en prestasie grense kan oorsteek.
Hoërskool Die Wilgers glo dat sulke geleenthede nie net leerders se kennis verdiep nie, maar ook hul lewensreis verryk.
Soos die skool dit stel: “Ons Wilgies gaan en verower die wêreld!”
Foto verskaf






