Oud-Daller. Hoërskool Ben Viljoen, Groblersdal, kondig met trots aan dat me. Suné van Aardt tot die personeelkorps toegetree het.
Me. van Aardt, ’n trotse oud-Daller, het in 2022 aan die skool gematrikuleer. Sy het ná haar matriekjaar haar studies aan die Universiteit van Pretoria voortgesit. Sy het haar B.Ed.-graad met sukses voltooi, met hoofvakke in Besigheidstudies, Afrikaans en Engels. Hierdie akademiese grondslag stel haar in staat om leerders met entoesiasme en kundigheid te begelei.
Sedert haar aanstelling is sy verantwoordelik vir die onderrig van Besigheidstudies aan Gr. 9- tot 11-leerders. Haar passie vir onderwys en toewyding aan jongmense is reeds sigbaar in die klaskamer.
Die skoolgemeenskap beskou dit as ’n besondere voorreg wanneer oud-Dallers terugkeer om hul kennis en ervaring met die volgende geslag te deel. Me. Van Aardt se terugkeer na haar alma mater is ’n bewys van haar verbondenheid met die Dallerfamilie en haar strewe om ’n positiewe verskil te maak.
Hoërskool Ben Viljoen wens haar alle voorspoed toe met hierdie nuwe hoofstuk en vertrou dat haar loopbaan by die skool gevul sal wees met groei, sukses en kosbare herinneringe.






