Hoërskool Bergsig Akademie vier fees ná nog ‘n uitsonderlike prestasie op nasionale vlak. Kaitlyn de Beer, ‘n leerder van dié skool, is pas gekroon as die nasionale wenner van die ATKV-DigiPraat 2026-kompetisie in die Gr. 8–9-kategorie.

Kaitlyn het die beoordelaars beïndruk en ‘n uitstaande A+++-toekenning behaal vir haar optrede.

ATKV-DigiPraat is ‘n gesogte nasionale digitale redenaarskompetisie wat vanjaar deur strawwe meededinging gekenmerk is. Die beoordeling geskied volgens ‘n besonder hoë standaard. Leerders se redenaarsvermoë, inhoud, keurige taalgebruik en oortuigingskrag word onder die vergrootglas geplaas.

Wat het Kaitlyn se oorwinning selfs nog meer merkwaardig gemaak? Sy het uitgestaan te midde van ‘n uiters sterk veld van die land se talentvolste jong sprekers. Haar vermoë om die gehoor én beoordelaars digitaal te boei, het die deurslag gegee.

Bergsig Akademie en die Rustenburg-gemeenskap is besonder trots op Kaitlyn se toegewydheid en die uitnemende manier waarop sy haar skool op ‘n nasionale verhoog verteenwoordig het.

https://www.bergsigacademy.net/

Foto verskaf

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article