Die Gereformeerde Skool Dirk Postma in die Moot, Pretoria, het Maandag hulle nuwe Dagbestuur vir die 2026/2027-skooljaar tydens ‘n formele saalopening aangewys.
Vyf Graad 11-leerders het elk ‘n portefeulje ontvang en sal in die komende jaar gesamentlik leiding oor die skool neem.
Woorde met wysheid gebruik
Ds. Erik van Alten, wat die opening gelei het, het die belangrikheid van taalgebruik in leierskap beklemtoon.
Hy het die skool, en veral die nuwe Dagbestuur, daaraan herinner dat woorde met “wysheid en genade besprinkel” moet wees.
Die skool het in ‘n verklaring die nuwe leiers ‘n geseënde termyn toegewens.
“Mag julle as span deur die genade van die Here sigbaar wees in dit waarvoor julle staan, mekaar se laste dra, met ‘n dienende gesindheid leiding neem en getrou aanmeld waar julle geroep word om te dien,” lui die verklaring.
“Mag julle woorde opbou, julle voorbeeld inspireer en julle diens tot seën wees.”
Die nuwe Dagbestuur begin amptelik met hulle pligte aan die begin van die 2027-skooljaar.






