Dirk Postma blink uit by Internasionale Robotika-uitdaging
Hendrik Boersema, Etienne van Alten en Lemar Boersma

Dirk Postma blink uit by Internasionale Robotika-uitdaging


Hoërskool Dirk Postma in Pretoria het groot trots beleef op drie van hul leerders. Hendrik Boersema, Etienne van Alten en Lemar Boersma, het op Saterdag, 1 Augustus die skool verteenwoordig by die Gauteng-provinsiale rondte van die World Robot Olympiad (WRO). Dit is aangebied by Curro Aurora in Randburg.

Die WRO is ’n wêreldbekende robotikakompetisie waaraan meer as 70 000 spanne uit 95 lande jaarliks deelneem. Vanjaar se tema, “Robots Meet Culture”, fokus op hoe robotte kan bydra tot die bewaring van kultuur en erfenis.

In die RoboMission Junior-afdeling moes spanne ’n volledig outonome robot bou en programmeer. Dit word binne streng gewig- en groottespesifikasies uitdagings voltooi. Die opdrag, “Heritage Heroes”, het vereis dat die robot binne twee minute ’n reeks take uitvoer. Dit moet besoekers begelei, torings herbou, paadjies skoonmaak en museumstukke veilig vervoer.

Dirk Postma se span het met groot vaardigheid die verrassingselement en ’n groot deel van die uitdagings baasgeraak. Só het hulle ’n indrukwekkende tweede plek in die Junior-afdeling verower. “Dirk Postma gee die eer aan die Here vir die gawes en geleenthede wat aan die leerders geskenk is.”

Die fokus verskuif nou na die Nasionale Finaal op 12 September in Gauteng. Die top-spanne van die land gaan mekaar dan uitdaag vir ’n plek op die internasionale ranglys.

https://www.gsdp.co.za/

Foto verskaf

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article